Dit is onaanvaarbaar dat Rhino Oil & Gas se aansoek om omgewingsmagtiging met die oog op voorgenome eksplorasie in die Oos-Vrystaat, goedgekeur is, sê Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat.
“Suid-Afrika is ‘n waterskaars-land en geen besoedeling van grondwater mag toegelaat word nie. Die VF Plus het amptelik appèl aangeteken teen die goedkeuring van die omgewingsmagtiging aangesien daar nie enige waarborge is dat die goedgekeurde aktiwiteite nie onomkeerbare skade aan omgewing en waterbronne gaan aanrig nie.
“Ons is veral bekommerd dat die geteikende area vir die toetsgate in die bo-loop van die Vaaldam en Vaalrivier is en dat die besoedeling verreikende gevolge sal hê, aangesien die Vaaldam miljoene mense van drinkwater voorsien.
“Die goedkeuring van hierdie omgewingsmagtiging is onbesonne aangesien navorsing wat die negatiewe effekte hiervan aandui glad nie in ag geneem is nie. Dit laat vrae ontstaan oor of hierdie magtiging nie dalk met onreëlmatighede gepaardgegaan het nie.
“Die VF Plus het by beide die departement van omgewingsake en die Petroleum Agentskap van Suid-Afrika (PASA) amptelik appèl aangeteken teen die goedkeuring van die omgewingsmagtigings, aangesien dit die eerste stap tot eksplorasie in die area is en baie negatiewe gevolge vir die omgewing – beide mens en dier kan inhou.
"Dit behels in kort dat toetsgate in ‘n groot gedeelte van die Oos-Vrystaat, wat onder andere groot dele van Vrede, Warden, Edenville, Heilbron, Frankfort, Reitz en Steynsrus beslaan geboor gaan word.
“Hierdie gate word dan met chemikalieë gevul om sekere toetse mee uit te voer. Alhoewel die chemikalieë weer uitgepomp word bly daar steeds daarvan agter wat dan die grondwater en die watertafels kan besoedel en die water ongeskik maak vir menslike en dierlike gebruik.
“Dit het dus ‘n reuse impak op die omgewing en geen versekering kan gegee word dat die besoedeling van die grondwater nie sal plaasvind nie, daarom is dit vir die VF Plus uiters kommerwekkend.
“Die VF Plus het voorheen boere, ook in die Oos- Vrystaat, bygestaan in ‘n geslaagde hofaansoek wat die beplande eksplorasie en hidrobreking in daardie spesifieke gebied gekeer het.
“Dit is uiters belangrik dat ons hierdie omgewingsmagtiging en die moontlike eksplorasie en hidrobrekings-aktiwiteit wat daarop kan volg moet teëstaan. Dit gaan nie net ‘n negatiewe impak op die landbou-aktiwiteite in die omgewing hê nie, maar ook miljoene mense en diere se drinkwater, waarvan daar reeds ‘n skaarste is, kan besoedel,” sê Van Niekerk.
Kontakbesonderhede: 083 743 2042