Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Omstredenheid tussen King David School en Roedean School: Minderheidsgroepe kwesbaar in Suid-Afrikaanse onderwys

Wat op die oog af soos ’n storm in ’n teekoppie mag lyk, verklap ’n dieper en kommerwekkende patroon van anti-Semitisme en die verkleinering van minderheidsgroepe binne die onderwyssektor.

Die omstredenheid gaan oor ‘n tenniswedstryd tussen die Joodse King David School in Linksfield, Johannesburg en Roedean School wat vandeesweek nié plaasgevind het nie.

In teenstrydige verklarings van die twee skole, interpreteer die twee skoolhoofde, me. Lorraine Srage van King David en me. Phuti Mogale van Roedean se seniorskool, die gebeure verskillend. Srage hou vol dat anti-Semitisme betrokke is, terwyl Mogale op ander verpligtinge van die deelnemers wys.

Volgens Srage het King David se spelers vir ‘n tennisligawedstryd opgedaag, maar Roedean se spelers was nie daar nie. Volgens haar het Mogale in ‘n telefoongesprek bevestig dat King David se identiteit, as Joodse skool, tot die onttrekking gelei het en dat Roedean bereid was om die ligapunte prys te gee.

Mogale ontken hierdie weergawe en beweer dat die onttrekking weens akademiese verpligtinge was. Sy erken dat dié besluit onvoldoende gekommunikeer is en sê dat die skool sy eie versuim ondersoek.

Die VF Plus is in besit van twee klankopnames, na bewering van gesprekke tussen die twee skoolhoofde. In die eerste gesprek stel ‘n vroulike persoon, wat Roedean na bewering verteenwoordig, uitdruklik dat King David se Joodse identiteit die probleem is. In die tweede ontken die persoon dit. Die VF Plus kan geen uitspraak oor die egtheid van die opnames maak nie.

Teen die agtergrond van Suid-Afrikaanse onderwys as geheel, kan dit na onbenullig lyk as twee bevoorregte, onafhanklike skole in Johannesburg ‘n tenniswedstryd misloop. Dat dit moontlik ‘n etniese grondslag het, maak dit egter ernstig.

Artikel 235 van die Grondwet verskans die reg van elke gemeenskap met ‘n gedeelde taal- en kultuurerfenis om hulle identiteit uit te leef. Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad oor Onderwys, onder wie se beheer die tien King David-skole in Johannesburg staan, voldoen aan al die vereistes van hierdie artikel.

Dit sou daarom ongrondwetlik wees vir ‘n ander skool om druk te plaas op ʼn skool om van sy identiteit afstand te doen deur sportboikotte of enige ander metodes.

Artikel 235 verwys na kulturele regte wat kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing gevestig kan word.

Volgens die VF Plus regverdig kultuurgroepe wat dit verlang, wetgewing wat hulle reg tot kultuurgebaseerde onderwys waarborg sonder gevolglike diskriminasie.

Die party beplan dus optrede in dié verband.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.