Mpumalanga se departement van landbou, landelike ontwikkeling, grond- en omgewingsake se jongste kwartaalverslag vir 2025/26, skets ‘n kommerwekkende prentjie van administratiewe verval en ‘n totale mislukking om die inwoners van die provinsie te dien.
Met onreëlmatige besteding wat reeds op sowat R42 miljoen staan, is dit duidelik dat wetlike voorskrifte en verkrygingsprosesse gereeld verontagsaam word.
Die massiewe onderbesteding van R120 miljoen vererger die fiskale onverantwoordelikheid. Dié fondse wat bedoel was vir gemeenskapsontwikkeling, lê nou ongebruik in die staatskas terwyl projekte tot stilstand kom.
Die VF Plus is veral besorg oor die tasbare impak wat hierdie wanbestuur op die landbousektor en werkskepping het.
Duisende boere wat op ondersteuning met insette en meganisasie staatgemaak het, is in die steek gelaat nadat die departement ver tekortgeskiet het aan sy eie teikens.
Die laat aflewering van voorrade en die versuim om grondhervormingsteikens te bereik, kniehalter voedselsekerheid en ekonomiese groei in die provinsie.
In ‘n tyd waar werkloosheid hoogty vier, is dit onaanvaarbaar dat die uitgebreide openbare werksprogram (EPWP) slegs ‘n fraksie van die beplande werkgeleenthede laat realiseer.
Die departement se onvermoë om selfs sy eie landelike ontwikkelingsprojekte, insluitend kritieke inisiatiewe soos die Mpumalanga Internasionale Voedselmark en die Agro-fonds te voltooi, bewys dat die huidige administrasie nie oor die nodige politieke wil of kundigheid beskik om volhoubare groei te bewerkstellig nie.
Die verslag onthul verder skokkende voorbeelde van wanpraktyke, waaronder betalings vir werk wat nooit gedoen is nie en infrastruktuurprojekte wat onvoltooid bly ten spyte van massiewe uitgawes.
Die verontagsaming van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) blyk nou die reël eerder as die uitsondering te wees.
As ‘n party wat veg vir die regte van belastingbetalers en die bevordering van die landbousektor, sal die VF Plus nie hierdie verval bloot ignoreer nie.
Die VF Plus het ’n vergadering met die premier, mnr. Mandla Nlovu, belê en sal onmiddellike aanspreeklikheid en ‘n deeglike hersiening van die departement se begrotingspraktyke eis.
Die inwoners van Mpumalanga verdien ‘n regering wat elke rand omsigtig aanwend tot voordeel al die inwoners van Mpumalanga.


