Die VF Plus dring aan op duidelikheid oor die Mbombela-plaaslike munisipaliteit se voortslepende grondoudit wat al jare lank sloer.
Die ANC-regering moet tot verantwoording geroep word oor die gebrek aan deursigtigheid rakende staatsgrond in die munisipaliteit.
Reeds op 30 November 2017 het die raad besluit dat die voltooide grondoudit vanaf die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit bekom moet word. Tog, byna nege jaar later, wag belastingbetalers steeds op die nodige inligting. Die oudit moes teen Februarie 2021 aan die raad voorgelê gewees het, maar die vertraging duur voort.
Die doel van die oudit is om die oorsigkomitee vir stadsbeplanning in staat te stel om staatsgrond binne die grense van Nelspruit, Witrivier, Hazyview en Barberton formeel te identifiseer. Sonder hierdie data bly die publiek in die duister oor die werklike omvang van grond in staatsbesit.
Intussen word kiesers telkens tydens verkiesingsiklusse gebombardeer met politieke retoriek oor onteiening, terwyl die ANC self nie eens oor ’n feitelike grondslag beskik nie.
Die VF Plus beskou hierdie versuim as óf growwe onbevoegdheid óf ’n doelbewuste weerhouding van inligting om politieke redes.
Die party het vrae gerig aan die uitvoerende burgemeester, me. Sibongile Makushe-Mazibukogerig, om vas te stel waarom die besluit nog nie uitgevoer is nie en waarom geen amptenaar die eenvoudige stap geneem het om die dokumentasie by die distriksmunisipaliteit te bekom nie.
Die party eis dat die oudit ’n volledige uiteensetting moet gee van alle staatsgrond, insluitend stamgrond, staatsplase en informele gebiede, sodat dit vergelyk kan word met privaatbesit in Mbombela.
Die inwoners van Mbombela verdien feite bo politieke slagspreuke.
Die VF Plus sal tydens die komende kwartaallikse raadsvergadering antwoorde eis en daarop aandring dat ’n deeglike ontleding van die data gedoen word.
Slegs met ’n feitelike grondslag kan sinvolle besluite oor grond en ontwikkeling in die streek geneem word.


