Die VF Plus het dit vandag tydens ‘n sitting van die Noordwes-provinsiale wetgewer duidelik gemaak dat die ANC direk verantwoordelik is vir die omgewingsvernietiging wat die land se voortbestaan bedreig.
Die Grondwet plaas ‘n duidelike verpligting op die regering om die omgewing te bewaar, besoedeling te voorkom en almal se reg tot ‘n gesonde leefomgewing te beskerm.
Die huidige stand van omgewingsverval kom dus neer op ‘n blatante skending van menseregte weens die ANC se wanbestuur en nalatigheid.
Ten spyte van hierdie grondwetlike bepaling en bestaande omgewingswetgewing word die omgewing en skaars waterbronne daagliks teen ‘n enorme tempo besoedel – veral op munisipale vlak.
Letterlik miljoene liter onverwerkte riool vloei in strate af en beland in spruite, riviere en ondergrondse waterbronne. Dis ‘n skande.
Howe het ook bevind dat onvoldoende begrotings nie as ‘n verskoning vir hierdie pligsversuim voorgehou kan word nie.
Die Groendruppelverslag van 2022 het tóé al uitgewys dat 40% van Suid Afrika se rioolsuiweringsaanlegte in ‘n kritieke staat van verval is. Dit het intussen vererger.
Die ANC-regering se skynbare onwilligheid om op te tree teen misdadige elemente wat bydra tot hierdie omgewingsramp, vererger die situasie.
In die Rustenburg- en Brits-omgewing word toksiese chroomsuiwering-chemikalieë en mynafval wat swaar metale bevat, reeds vir jare in strome en vleilande gestort.
Die oorgrote meerderheid van hierdie chroomsuiweringsaanlegte opereer openlik onwettig. Tog word geen stappe teen die skuldiges geneem nie. Dit kom neer op misdadige nalatigheid en versuim.
Hierdie wetteloosheid beroof inwoners van skoon en veilige drinkwater, bedreig voedselsekerheid en vernietig ‘n pragtige omgewing.
Selfs die Verenigde Nasies (VN) het al gewaarsku dat Suid-Afrika se nalatigheid om besoedeling te voorkom, ‘n erge skending van menseregte is.
Dit is kristalhelder dat hierdie kwessie ‘n suiwer ANC-politieke probleem is. Suid-Afrika beskik oor voldoende wetgewing, implementeringsraamwerke en die grondwetlike bepalings om behoorlike omgewingsbestuur toe te pas. Die politieke wil is bloot nie daar nie.
Munisipaliteite en owerhede moet streng verantwoordbaar gehou word as hulle versuim om die bevindings en voorskrifte in Groendruppelverslae na te kom en omgewingswetgewing ignoreer.
Die ANC het met sy optrede die verval van ons munisipaliteite, bewaringstelsels en omgewing georkestreer.
Suid-Afrikaners moet hulle hiervoor straf en by die stembus tot verantwoording roep vir hul laksheid en die skending van almal se basiese regte.


