Om beloftes aan kinders te maak en hulle dan in die steek te laat, is ‘n skreiende onreg. Wanneer die skuldige boonop die president van die land is en die leë beloftes die kinders se toekoms direk benadeel, is dit soveel erger.
In sy staatsrede in 2019 het president Cyril Ramaphosa die onderneming gegee dat alle skole in Suid-Afrika teen 2025 aan die internet gekoppel sou wees, mét ‘n tablet vir elke leerling.
Maar soos met soveel ander beloftes en ondernemings van die ANC, het hiervan niks gekom nie.
Die departement van basiese onderwys erken self dat 16 000 skole steeds totaal afgesny is van die digitale wêreld. (Business Day, 17 September 2025: State failed to fulfil president’s digital learning promise, MP’s told).
Hierdie ambisieuse onderneming moes volgens die president onderwys transformeer om kinders vir die digitale era voor te berei. Ses jaar later toon die werklikheid nóg ‘n ANC-mislukking.
Die situasie raak veral leerders in landelike gebiede waar infrastruktuur swak is. Dit ontneem kinders nie net toegang tot inligting nie, maar ondermyn hul kans op gelyke onderwys en toekomstige werksgeleenthede.
Die feit dat die ANC Elon Musk se aanbod om 5 000 landelike skole gratis aan Starlink se hoëspoed-satelliet-internet te koppel in sy gesig teruggegooi het, wys hoe totaal ongevoelig die president en die ANC teenoor die kinders van die land staan.
Dit sou ʼn belegging van sowat R500 miljoen gewees het sonder enige koste vir die staat.
Vir Suid-Afrika om die projek op sy eie te doen, sal na raming sowat R30,6 miljard kos, geld wat daar nie is nie.
Die regering wou nogtans nie bes gee oor sy rigiede vereistes oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie en Musk se aanbod, wat 2,4 miljoen leerlinge sou bereik, is van die baan gevee.
Politieke agendas en uitgediende, mislukte ekonomiese beleid is vir die ANC belangriker as die jeug van die land se toekoms.
President Ramaphosa kan in hierdie geval nie die skuld op enigiemand anders pak nie. Hy het die belofte gemaak en hy het toegekyk hoe SEB Musk se aanbod verongeluk.
Die VF Plus eis dat die gesprek met Musk dringend hervat word en Starlink se aanbod en voorwaardes oor SEB aanvaar word. Die infrastruktuur hiervoor moet dadelik geskep word.
Kinders se toekoms, en daarom die land se toekoms, is veel belangriker as die ANC se politieke agendas en beleid wat in elk geval besig is om die land te vernietig.
Die ANC laat almal in Suid-Afrika in die steek en die tyd het aangebreek dat kiesers se oë hiervoor oopgaan.


