Alhoewel die Percy Stewart-rioolsuiweringsaanleg in Krugersdorp na jare se verval nou weer gedeeltelik funksioneer, voldoen dit steeds nie aan die wetlike omgewingsvereistes nie.
Die VF Plus het Vrydag tydens ʼn oorsigbesoek aan die aanleg vasgestel dat onverwerkte riool steeds in riviere en spruite vloei wat die water onbruikbaar maak vir mense en vir gewas-besproeiing.
Onafhanklike laboratoriumtoetse wat inwoners self laat doen het, bewys dat daar gevaarlike vlakke van E. coli in die water aanwesig is.
Daar is R64 miljoen begroot vir die opknapping van Percy Stewart waarvan R10 miljoen reeds bestee is aan sekuriteitsmaatreëls en die oprig van ʼn nuwe heining.
Weens die Mogale City-plaaslike munisipaliteit se wanbetaling, is die heining nog nie voltooi nie.
Die volgehoue besoedeling het ’n vernietigende uitwerking op die toerismebedryf en gemeenskappe in en rondom die Wieg van die Mensdom.
Ondernemings langs die Blaauwbank- en Rietspruit wat hoofsaaklik uit restaurante en oornaggeriewe bestaan asook fabrieke en plase wat uit die rivier besproei, moes noodgedwonge hul werksaamhede staak omdat hulle nie water uit die rivier kan gebruik nie.
Een daarvan is ‘n groot Koivis-onderneming wat ook sy werksaamhede moes staak.
Die VF Plus dring daarop aan dat volle wetlike en tegniese nakoming dringend bereik word, dat omvattende rehabilitasie van besoedelde riviere en damme begin en dat tydlyne en verantwoordbaarheid duidelik gekommunikeer en nagekom word.
Die party sal voortgaan om die munisipaliteit te dwing om die rioolwerke te herstel en die water veilig te maak volgens omgewingswetgewing.


