Die voortslepende waterkrisis wat inwoners in groot dele van die Johannesburgse metro ervaar, kan net voor die deur van die onbevoegde ANC en sy regeringsvennote gelê word.
Huishoudings en ondernemings is vir weke sonder water met wisselvallige voorsieningskedules. Hierdie situasie is onaanvaarbaar en is die direkte gevolg van jare se agterstallige instandhouding, swak beplanning en ’n gebrek aan die opgradering van waterinfrastruktuur.
Ten spyte van herhaalde beloftes het die ANC gefaal om verouderde waterinfrastruktuur op te gradeer om aan die toenemende vraag te voldoen.
Die metro se verskonings en “noodverklarings” is nie meer aanvaarbaar nie. Hierdie krisis spruit nie slegs uit bevolkingsgroei of klimaatdruk nie, maar veral uit administratiewe onbekwaamheid en finansiële wanbestuur.
Johannesburg se inwoners is moeg vir leë beloftes.
Die VF Plus het ʼn beroep op die metro gedoen om:
- ’n Onafhanklike oudit van alle waterinfrastruktuur uit te voer om kritieke swakpunte te identifiseer.
- Voorkomende instandhouding te prioritiseer en nie slegs noodherstelwerk nie.
- Grootskaalse waterstelsels op te gradeer om huidige en toekomstige aanvraag te kan hanteer.
- Kommunikasie met inwoners te verbeter deur middel van intydse opdaterings oor onderbrekings en herstelwerk.
- Waterinkomste slegs aan waterinfrastruktuur en instandhouding te bestee en nie aan ander munisipale uitgawes nie.
- Uitstaande waterskuld wat miljarde beloop begin invorder in gebiede soos Soweto.
Sonder onmiddellike ingryping sal watervoorsieningsonderbrekings huishoudings, skole, gesondheidsgeriewe en ondernemings bly lam lê. Die lewenskwaliteit van die stad se inwoners en die ekonomie word ondermyn weens die gebrek aan genoegsame water.
Die VF Plus sal voortgaan om vir Johannesburg se inwoners te veg en te verseker dat die metro sy grondwetlike plig nakom om betroubare basiese dienste te lewer.


