Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gevaarlike Wilcocksweg in Bloemfontein gaan eindelik aandag kry ná druk VF Plus

Die burgemeester van die Mangaung-metro, Gregory Nthatisi, het onderneem om dringend aandag te skenk aan die lewensgevaarlike Wilcocksweg in die noorde van Bloemfontein wat al talle lewens geëis het.

Dié onderneming kom ná die VF Plus daarop aangedring het dat hy self die pad besoek ná die jongste noodlottige tref-en-trap-ongeluk verlede Donderdag waarin ʼn man gesterf het.

Die VF Plus waarsku die metro reeds sedert 2022 oor die lewensgevaarlike toestand van Wilcocksweg, maar alle pleidooie het op dowe ore geval. Een van vele voorbeelde is op 5 Junie 2023 waar nege mans van die agterkant van ’n bakkie gegooi is toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Nou, ná die soveelste ongeluk, het die burgemeester toegegee dat daar dringende ingryping nodig is.

Nthatisi het onderneem dat die metro van volgende week die stormwater-afvoerpype sal skoonmaak, bome sal snoei en die padstrepe herverf.

ʼn Beplanningspan sal ook die moontlikheid ondersoek om spoedkameras aan te bring en ʼn verkeersirkel op die kruising van Gladstone- en Wilcocksweg op te rig.

Die party is versigtig optimisties dat die metro ná jare se versuim om op te tree, uiteindelik volhoubare oplossings beplan om verdere onnodige lewensverlies te voorkom.

Die VF Plus sal die situasie monitor en toesien dat die burgemeester se ondernemings nie net by lippetaal bly nie, maar dat tasbare resultate gelewer word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.