Die Ouditeur Generaal (OG) se verslag oor die prestasie van munisipaliteite rakende die Munisipale Finansiële Bestuurswet, lewer verdoemende getuienis van agteruitgang en wanbestuur in die munisipaliteite van die Noordwes-provinsie.
Volgens die OG het die prestasie van munisipaliteite in Noordwes agteruitgegaan en is daar geen munisipaliteit wat 'n skoon oudit ontvang het, of selfs net ‘n mening oor waar daar geen wesenlike wanvoorstellings voorkom nie.
Die helfte van die munisipaliteite se oudit-mening vir die 2018/2019-boekjaar is totaal ongunstig, wat beteken dat dié munisipaliteite se finansiële state duidelike materiële wanvoorstellings bevat wat nie beperk is tot ‘n besondere bedrag nie, of die wanvoorstellings sluit ‘n beduidende gedeelte van die finansiële state in.
Wat die swak ouditprestasie, gegrond op die finansiële rekords van munisipaliteite selfs in nog ‘n slegter lig plaas, is die feit dat daar R227 miljoen aan konsultante bestee is om die state op te stel.
Dit is volgens die OG verder verdoemend dat 82% van alle munisipaliteite in die Noordwes dringende ingryping benodig teenoor 69% in die vorige finansiële jaar.
Die eerste twee kritieke stappe wat geneem moet word om die stand van munisipaliteite te verbeter, is om eerstens ‘n proses van desentralisasie daar te stel, waar die groot munisipaliteite in kleiner, gemeenskapsgegronde bestuurseenhede opgebreek word en tweedens om wetgewing só te wysig dat munisipale bestuurders en die politieke hoofde effektief verantwoordelik gehou kan word.
Dit is al wyse waarop verhinder kan word dat munisipaliteite in Noordwes totaal in duie stort.
Navrae: 0798851135