Die LUR vir onderwys in Mpumalanga, Bonakele Majuba, het tydens die begrotingsdebat van dié departement in die wetgewer, die geleentheid gebruik om apartheid die skuld te gee vir die afbrand en beskadiging van 73 skole in die provinsie. Die voorvalle het tussen Maart en April vanjaar plaasgevind.
Majuba het in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus, of ‘n gebrek aan dissipline in skole nie aanleiding gee tot gewelddadige aksies om skole af te brand nie, gesê: “Apartheid het ons mense geleer, as hulle iets soek, om gewelddadig op te tree en dit is hoekom die skole afgebrand word. Ons mense moes baklei vir alles wat hulle het en weens apartheid is dit deel van ons kultuur."
Die VF Plus is van mening dat apartheid na 26 jaar nie meer as verskoning gebruik kan word deur die jeug vir die afbrand en beskadiging van skole nie. Majuba stel dus apartheid en die huidige ANC-regering gelyk aangesien die jeug hom tot geweld moet wend om iets te verkry.
Dis tyd dat die ANC in Mpumalanga ophou om apartheid as verskoning te gebruik vir sy mislukkings en begin om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy eie dade.
Die VF Plus sal vrae aan die betrokke LUR rig om te verduidelik hoe apartheid steeds na 26 jaar die ANC se besluite beïnvloed.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830