Die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG), me. Tsakani Maluleke, oor die stand van munisipaliteite in Suid-Afrika (2024/25) wat vandag uitgereik is, belig weer die noodsaak om die ANC ten alle koste uit plaaslike regering te verwyder.
Die skade wat ANC-beleid, wanadministrasie en korrupsie aan die land se stede en dorpe aanrig, is enorm.
Tans is 51%, oftewel 123 munisipaliteite landwyd tegnies bankrot met laste wat bates oorskry terwyl 72% of 174 munisipaliteite deurentyd erge kontantvloeiprobleme ervaar.
Diensverskaffers word gereeld nie betaal nie met groot negatiewe gevolge vir plaaslike ekonomieë.
Onbefondsde begrotings word met reëlmaat deur 116 (45%) munisipaliteite goedgekeur, wat meebring dat plaaslike regerings hulle tot die besteding van R288 miljard verbind het met geen manier om dit te betaal nie. Hierdie onwettige praktyk wat skynbaar ‘n ANC-norm geword het, bevestig weer die skynbare minagting wat ANC-administrasies vir landswette en goeie regering het.
ANC-nalatigheid en die wanbestuur van noodsaaklike infrastruktuur het in 2024/25 gelei tot waterverliese van R14,7 miljard en kragverliese van meer as R21 miljard.
Weens onder meer kaderontplooiing en die aanstel van onbevoegde persone in finansiële posisies, word konsultante teen ‘n totale koste van R1,6 miljard per jaar aangestel om finansiële state vir munisipaliteite voor te berei.
Hierdie ANC-goedgekeurde konsultante vaar egter nie veel beter as die amptenare nie. Altesame 61% van die munisipaliteite wat konsultasie-dienste gebruik, dien finansiële state met materiële foute of wanvoorstellings in.
Sedert die 2021/22-finansiële jaar tot in 2025, het onreëlmatige besteding in munisipaliteite ‘n enorme R145 miljard beloop. Hiervan is R40,14 miljard net in 2024/25 onreëlmatig bestee.
Die OG lig verder uit dat die kultuur van wetteloosheid en gebrek aan aanspreeklikheid ook onverpoosd voortduur. Slegs 16% van die munisipaliteite het in 2024/25 aan die wetlike voorskrifte oor finansiële- en begrotingsbestuur voldoen.
Alhoewel hierdie bevindinge van die OG nie ‘n verrassing behoort te wees nie, bly die enormiteit van die gevolge van ANC-wanbestuur en korrupsie, asook die bedrae ter sprake, skokkend.
Dit is ‘n absolute skande dat die ANC bloot voortgaan met sy plundering en vernietiging van Suid-Afrika se dorpe en stede met ‘n skynbare minagting vir die land se inwoners en die ellende wat dit veroorsaak.
Dit is daarom noodsaaklik vir Suid-Afrika se welvaart en voortbestaan dat kiesers hul stemme in die komende verkiesing mobiliseer om die ANC permanent uit plaaslike regering te verwyder.
Die VF Plus sal bly stry vir die reg van ons gemeenskappe om in ‘n korrupsievrye omgewing te leef en etiese munisipale dienslewering te herstel regoor Suid-Afrika.


