Die VF Plus het vandag skerp kapsie gemaak teen ‘n salarisverhoging van 50% vir die senior bestuur van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, wat pas deur die ANC-beheerde raad goedgekeur is.
Die VF Plus het in ‘n debat oor die 2026/27-begroting uitgewys dat só ‘n verhoging op hierdie tydstip uiters onverantwoordelik sal wees gegewe JB Marks se benarde finansiële posisie, en die toenemende verval van Potchefstroom en Ventersdorp wat die munisipaliteit bedien.
Die feit dat hierdie verhoging boonop terugwerkend van 2024 van krag sal wees, plaas ‘n verdere onbekostigbare las van miljoene rande op die munisipaliteit.
Die begroting is boonop onbefonds en weerspieël geensins ‘n realistiese beeld van die munisipaliteit se geprojekteerde inkomste nie. Dit wys duidelik dat die ANC in JB Marks heeltemal tred met die werklikheid verloor het.
Só word daar verder ‘n bedrag van R20 miljoen goedgekeur vir die bou van ‘n sportstadion in Ventersdorp terwyl die dorp se strate bykans onbegaanbaar is. Dít terwyl die dorp se inwoners reeds vir 18 uur sonder krag sit weens vervalle kraginfrastruktuur.
Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp ly jare reeds onder die verval weens die siniese ANC-wanbestuur en korrupsie in JB Marks.
Die ANC se optrede vandag in die munisipale raad, verteenwoordig net nóg ‘n episode in die geleidelike afbreek van eens vooruitstrewende dorpe onder dertig jaar se ANC-bewind.
Die VF Plus sal bly stry vir die herstel van professionele en etiese dienslewering in JB Marks.
Kiesers moet in die komende munisipale verkiesing met hul stemme verseker dat die ANC uit plaaslike regering verwyder word.


