Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse onderwysdepartement se wanbetaling van skolesubsidies moet nou stop

Die VF Plus het die Gautengse onderwysdepartement se skandalige wanbetaling van skolesubsidies aan verskeie skole fel gekritiseer en het geëis dat dié optrede stopgesit word.

Dié kritiek is gelewer met die provinsie se 2026/27-begrotingsdebat en na aanleiding van klagtes van verskeie openbare skole dat hulle nog nie die beloofde subsidies ontvang het nie. Sommige skole het slegs ‘n klein gedeelte daarvan ontvang.

Dit is skandalig dat die onderwysdepartement die grootste deel van die provinsiale begroting ontvang, maar steeds nie sy finansiële verantwoordelikheid teenoor skole kan nakom nie.

Die eerste deel van die jaarlikse provinsiale subsidie moes reeds in Mei betaal gewees het. Die volgende betaalperiode is November. Aangesien kwintiel 1- tot 3-skole totaal afhanklik is van die subsidie, sal dié skole nie eens die November-betaalperiode haal nie.

Gegewe dat talle skole in die hoër kwintiele ook finansieel swaar trek, kan ‘n groter groep skole in duie stort indien die subsidies nie onmiddellik betaal word nie.

Hierdie is ‘n aanduiding van uiters swak bestuurs- en finansiële beplanning van die onderwysdepartement. Die krisis speel boonop af teen die bestaande situasie van die drastiese inkorting van kwintiel 5-skole se subsidies.

Dit raak duidelik dat die onderwysdepartement stelselmatig sy greep begin verloor oor die vermoë om behoorlike dienste aan openbare skole te lewer terwyl die agterstand met die bou van nuwe skole al hoe groter raak wat druk op bestaande skole onregverdig verhoog.

Dit raak ook verder duidelik dat die onderwysdepartement geteiken word vir besparings om gate in ander departemente toe te stop tot nadeel van openbare skole in Gauteng soos die geval van die vermindering van die subsidies van kwintiel 5-skole.

Die tyd het aangebreek om ‘n onafhanklike oudit van die onderwysdepartement te doen en dit te herstruktureer om meer met minder te doen. Daar moet heelwat besparings wees binne die onderwysdepartement op sentrale- en distriksvlakke wat fondse kan ontsluit vir skole, wat subsidies kan herstel en die bou van nuwe skole moontlik maak.

Die VF Plus gaan die kwessies aan die adres van die LUR van onderwys, Lebogang Maile, rig en antwoorde eis.

Skole wat geen of gedeeltelike subsidies ontvang het, word genooi om met die VF Plus te skakel om die wanbetaling met die LUR en die departement op te volg.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.