Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus bewerkstellig belangrike regstellings en vereistes tot voordeel van inwoners in Ekurhuleni-begroting

Nadat die 2026/27-begroting van die Ekurhuleni-metro reeds vier keer gedien het, het die VF Plus vandag die hersiene begroting in beginsel gesteun met verdere belangrike wysigings, regstellings en bindende verbintenisse van die ANC-geleide administrasie in die belang van inwoners.

Vorige weergawes van die begroting is verwerp weens onrealistiese aannames, dokumentasiefoute en buitensporige tariewe.

Die hersiene begroting sluit in ʼn verlaging in die voorgestelde eiendomsbelasting vanaf 2% na 1,5%. Hoewel die VF Plus ’n laer verhoging wou sien, bied dit broodnodige verligting vir die gemeenskap.

Die metro het onderneem om die vullisverwyderingsbeleid dringend reg te stel. Afsonderlik geregistreerde deeltiteleenhede (soos motorhuise, stoorruimtes en parkeerplekke) sal nie meer afsonderlik vir vullisverwydering of beskikbaarheidsheffings aangeslaan word waar geen afsonderlike diens gelewer word nie. Inwoners sal nie twee keer vir dieselfde diens betaal nie.

Die foutiewe watertariefskedule, wat ’n verkeerde verhoging van 14% weerspieël het, is amptelik teruggetrek.

Die VF Plus het ’n bindende verbintenis verkry dat ’n befondsde plan om kragverliese en inkomste te beskerm, teen Augustus aan die raad voorgelê moet word.

Nersa het bevind dat Ekurhuleni ’n skokkende 15,54% se kragverliese het. Die metro móét dit nou prioritiseer deur strenger meterlesings, netwerkonderhoud en die uitroei van onwette aansluitings.

Die metro het sy fout erken in die langtermyn-finansiële strategie, wat verkeerdelik op ’n onrealistiese invorderingskoers van 98% gegrond was in stede van die werklike model-basislyn van 90%.

Die administrasie moes die versekering gee dat die voorgestelde oortrokke gerief van R500 miljoen slegs ’n tydelike kontantvloeimeganisme is wat voor die einde van die finansiële jaar afgelos sal word. Die VF Plus sal streng toesig hieroor hou.

Deur hierdie gewysigde begroting deur te voer, het die VF Plus ook verhinder dat die metro nader aan ’n provinsiale ingryping stuur.

Dit hou die metro se finansies uit die hande van die EFF se provinsiale LUR vir finansies, Nkululeko Dunga, wat die metro reeds tydens sy termyn as burgemeesterskomiteelid vir finansies in ‘n finansiële chaos gedompel het.

Die VF Plus het bewys dat toegewyde en bewysgegronde opposisie werklike verandering kan afdwing – van tariefverligting tot regstellings wat inwoners beskerm.

Op 4 November het kiesers die geleentheid om hierdie koers vol te hou deur vir die VF Plus te stem. Só kan verseker word dat belastinggeld reg aangewend word en dienslewering prioriteit geniet.

Dis ons tyd om ’n beter Ekurhuleni te bou.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.