fbpx
Vryheidsfront Plus

OG maak weer ernstige bevindings teen ANC-beheerde Sedibeng

Die ouditeur-generaal (OG) het weer ernstige bevindings teen die ANC-beheerde Sedibeng-distriksmunisipaliteit gemaak; die meeste daarvan herhalings van vorige jare se probleme.

Die ANC-beheerde distriksmunisipaliteit slaan geen ag op waarskuwings nie en hou eenvoudig jaar na jaar aan om dieselfde foute te maak sonder enige teken van verbetering. Een ooglopende rede hiervoor is dat daar geen aanspreeklikheid geëis word van skuldige personeel en hul politieke leiers nie.

In sekere gevalle kon die OG nie eens die data wat aan hom verskaf is nagaan of bevestig nie weens die swak gehalte en onleesbaarheid daarvan. Die OG kritiseer Sedibeng se rekenkundige beampte direk weens die swak gehalte van die werk.

Die VF Plus het voorheen tydens ʼn sitting van die openbare rekeningkomitee aangedui watter personeel in die distriksraad nie hul werk doen nie, maar ten spyte hiervan is niemand nog gedissiplineer of afgedank nie.

Die OG het ook bevind dat Sedibeng nie beplan om bevoegde persone aan te stel om die poste te vul van ervare personeel wat binnekort gaan aftree nie.

Die VF Plus verneem dat die finansiële-komitee wel verslae saamstel oor die personeel waarteen opgetree moet word, maar dat die burgemeesterskomitee op sy beurt verhinder dat enige van die verslae aan die munisipale raad voorgelê word.

Die laaste strooi is natuurlik dat die burgemeester, Maloko Lerato, verslae van die burgemeesterskomitees eers ses maande na die sperdatum ingedien het by die Sedibeng-raadsvergadering vir goedkeuring.

Dit is dus duidelik dat die ANC-regering geen respek het vir die verrigtinge van die raadsvergadering nie en dus nie te vertrou is nie.

Die VF Plus sal die implementering van die OG se verslag se aanbevelings monitor en druk op die ANC-regering plaas om te sorg dat al die foute uiteengesit in die verslag, daadwerklik aangespreek word.

Die finale oplossing van hierdie en ander kwessies is uiteindelik om die ANC in die verkiesing van 2024 uit die kussings te lig.

Elke stem maak die VF Plus sterker om as ʼn gerekende koalisie-vennoot die regering in Gauteng oor te neem en dan daadwerklik in te gryp in die talle wanfunksionele munisipaliteite en distriksmunisipaliteite.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.