fbpx
Vryheidsfront Plus

Nkomazi op sy knieë weens ANC-wanbestuur

Die ANC-beheerde Nkomazi-plaaslike munisipaliteit (Komatipoort, Malalane, Marloth Park) is op sy knieë weens ʼn ingesteldheid van wanbesteding van belastinggeld.

Die finansiële resultate van die munisipaliteit vir die halfjaar geëindig op 31 Desember 2023, toon ‘n oorbesteding van R124,754 miljoen teenoor die voorgeskrewe begroting (19% meer).

Nieteenstaande hierdie reuse oorskryding gaan die munisipale bestuur en ANC-raad voort om onnodige uitgawes aan te gaan.

Daar is R513 548 bestee aan ʼn spanbou-oefening vir munisipale amptenare. Die oorbesteding sluit ook ʼn rekening in van R2,2 miljoen vir konferensies waarvan verskeie in Kaapstad en Durban plaasgevind het.

Nog onnodige uitgawes sluit in:
• R100 625 aan vyf geskenke vir Vrouedag
• R40 700 vir die huur van motors vir vier dae
• R47 150 aan ʼn Nikon-kamera
• R662 192 aan 15 rekenaars (teen ‘n gemiddelde prys van R42 800 elk)

Dit is ook kommerwekkend dat ʼn buitensporige bedrag van sowat R33 miljoen aan rente betaal moet word op fakture wat buite die 30-dae-rentevrye periode betaalbaar was.

Die munisipaliteit het ʼn begroting van R10, 720 miljoen vir oortyd, maar betaal oortyd van R43,369 miljoen. Dit is ʼn skreiende 304%-oorskryding.

Dit is ook skandelik dat die bestuur die begroting vir prestasiebonusse met 70% oorskry. Bonusse van R30,676 miljoen is betaal terwyl daar slegs begroot is vir R18,053 miljoen.

Die VF Plus gaan daarop aandring dat ʼn ondersoek na die wanbesteding en verspilling van die belastingbetalers se geld so gou moontlik gedoen word.

Die VF Plus het deurlopend uitgewys dat die situasie op ʼn krisis afstuur en dringende stappe geneem moet word om Nkomazi se finansiële volhoubaarheid te herstel.

Sulke wanbesteding dui eerstens op moontlike korrupsie, of ten beste op erge onbevoegdheid in die bestuur van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.

Die inwoners van Nkomazi ly reeds lank onder die wanbestuur en korrupsie van opeenvolgende ANC-beheerde munisipale administrasies.

Die VF Plus sal voortgaan om wanpraktyke in hierdie munisipaliteit aan die kaak te stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.