In ʼn algemene verkiesingsjaar is daar twee staatsredes. Een voor en een ná die verkiesing. Die VF Plus is hoopvol dat kiesers met hul stem sal toesien dat pres. Cyril Ramaphosa net in die eerste te siene gaan wees.
Wat vandeesweek se staatsrede (Donderdag) aanbetref, sal die president ongetwyfeld ʼn “verkiesingsstaatsrede” lewer om die ANC se lof en prestasies oor die afgelope dertig jaar te besing.
Die VF Plus verwag nie enige wesenlike aankondigings oor onder meer ekonomiese groei nie. Sou hy dit wel doen, sal dit hoofsaaklik leë woorde wees gelaai met retoriek en propaganda.
Dit is interessant om te hoor dat lede van die publiek toenemend deur die media te kenne gee dat hulle nie meer daarin belang stel om na die staatsrede te luister nie aangesien hulle dit beskou as beloftes wat nie realiseer nie.
Wat die VF Plus wel sou wou hoor, is dat president Ramaphosa die erns van die krisis van werkloosheid in Suid-Afrika aanspreek.
Dit sou egter sinneloos wees om weer net ʼn beraad met beloftes van beleggings te reël. Niemand neem dit meer ernstig op nie. Hy moet die ware redes verskaf vir die swak ekonomie en gepaardgaande stygende werkloosheid en sê wat die regering daaraan gaan doen.
Hy moet ook verduidelik waarom die beloftes aangaande die kragkrisis in Suid-Afrika nie nagekom is nie. Daar is verlede jaar vanuit regeringskringe ʼn paar keer beloof dat die krisis verlede jaar reeds opgelos sou word.
Die president moet sy staatsrede eintlik gebruik om die mense van Suid-Afrika om verskoning te vra vir die land se agteruitgang en al die leë beloftes wat hy in sy termyn as staatshoof gemaak het.
Die VF Plus het nie groot verwagtinge oor betekenisvolle nuwe aankondigings nie. Wat ook al gesê en beloof word, sal in elk geval met ʼn knippie sout geneem word.
Die publiek se lou reaksie via die media oor die staatsrede behoort ʼn sterk boodskap aan president Ramaphosa te stuur dat hy totaal sy geloofwaardigheid as staatshoof verloor het.
Die VF Plus doen ʼn beroep op elke stemgeregtigde Suid-Afrikaner om te registreer en te gaan stem om seker te maak hierdie is die laaste staatsrede van ʼn president en regering wat niks meer het om te bied om die land te red nie.