Lede van die VF Plus het gister (Sondag, 4 Februarie) die jaarlikse herdenkingsdiens van die Suid-Afrikaanse Militêre Intelligensie Veteranevereniging (SAMIVV) by Ford Klapperkop in Pretoria bygewoon.
Die diens vind gewoonlik vroegoggend op die eerste Sondag naaste aan 5 Februarie (Internasionale Intelligensiediensdag) plaas.
Die doel van die dag is om lede van die intelligensiegemeenskap wat hul lewe vir hul land opgeoffer het, te gedenk.
Sakkie du Plooy, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad en voorsitter van die voorsitterskomitee het namens die party ’n diens as oudkapelaan gelewer.
Die VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, het as gasspreker hulde gebring aan alle militêre helde wat hul lewe vir die land opgeoffer het en het ook verwys na die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette wat nou oop is vir openbare deelname. Gaste is genooi om hul insette hieroor te lewer.
Suid-Afrikaanse MI-lede was nog altyd toegewys aan verskillende eenhede en hulle is daarom dikwels uitgesluit van ʼn groepsidentiteit, veral wanneer dit kom by die hul eie veteraanverenigings.
Die SAMIVV streef tans daarna om ‘n virtuele tuiste te bied vir alle veteraan MI-amptenare. In ʼn wêreld van klassifikasie en vertroulikheid is dit ‘n omgewing waar gelykgestemde professionele individue hul ervarings kan deel.
Die SAMIVV is op 12 April 2014 amptelik gestig met die doel om veterane op alle diensvlakke in die vorige en huidige bedeling te verteenwoordig en om toe te sien dat diegene wat die hoogste prys vir hul land betaal het, nie vergeet word nie, soos nou gedoen is.
Om inklusiwiteit en aanvaarding deur almal te verseker, is ‘n poging aangewend om alle lede met ʼn intelligensieagtergrond wat vir die staat gewerk het, te nooi om die geleentheid by te woon en kranse te lê.
Naasbestaandes, familie en vriende is ook die geleentheid gegun om persoonlike huldeblyke te bring deur ‘n krans of blomme ter nagedagtenis van ‘n geliefde te lê.