Net soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) slegs ʼn handjievol kaders bevoordeel het ten koste van die massas, net so sal die verhoogde minimum loon ten beste ʼn klein groepie bevoordeel ten koste van miljoene werkloses.
Vir die ANC-regering is dit bloot nóg ʼn goedkoop manier om politieke punte voor die verkiesing aan te teken met geen inagneming van die skadelike gevolge daarvan nie.
Die VF Plus is sterk gekant teen ʼn minimum loon. Dit druis in teen die gesonde beginsels van ʼn vrye markstelsel.
Vergoeding moet billik wees en moet voortspruit uit ʼn onderhandelingsproses tussen werkgewer en werknemer onderhewig aan ervaring en produktiwiteit.
Die uitbuiting van werkers deur ʼn hongerloon is verkeerd en onaanvaarbaar.
Die realiteit van die verhoging van 8,5% van die nasionale minimum loon tot R27,58 per uur, is bloot dat baie mense hul werk gaan verloor en die land se werkloosheidsyfer verder gaan toeneem.
Die Nasionale Reserwebank se vooruitgeskatte gemiddelde inflasiekoers vir 2024 is 5%. Dit maak dit duidelik dat ʼn verhoging van 8,5% totaal en al buitensporig is.
Mense met ʼn basiese maandelikse inkomste soos pensioentrekkers sal nie die verhoogde minimum loon kan bekostig nie.
Salaristrekkers met ʼn gemiddelde inkomste sukkel self al hoe meer om te oorleef en sal toenemend self die moue moet oprol om hul tuis- en tuinwerk te doen.
Die gevolg is dat werkers soos huishulpe en tuinwerkers afgelê gaan word en nie meer werk gaan kry nie.
Dieselfde gaan noodwendig met plaaswerkers gebeur wie se lone gestandaardiseer is met die algemene minimum loon en nie meer op ʼn sektorale grondslag geskied nie. Boere sal al hoe meer moet meganiseer.
Die waarheid is dat duisende salaristrekkers geld afknyp vir ʼn huishulp of tuinwerker omdat hulle besef die mense is werkloos en meegevoel met hulle het.
Dit is totaal anders as die ANC wat met ondeurdagte en skadelike besluite soos hierdie ʼn totale gebrek aan insig en menslikheid toon.
Die tyd het aangebreek om die ANC te vervang met ʼn regering wat werklik vir die mense van die land omgee.