Sedert die Harry Surtie-hospitaal in Upington bykans tien jaar gelede geopen is, het dit net nog ʼn voorbeeld geword van die verval in die land se openbare gesondheidsorg-stelsel en die leë beloftes van die ANC.
Met geen werkende lugverkoeling nie en temperature wat hierdie tyd van die jaar gereeld bo 40 grade Celsius is, is omstandighede in die hospitaal in die hoofstad van die Kalahari vir pasiënte en personeel onmenslik.
Die ironie is dat die destydse president Jacob Zuma met die hospitaal se opening in 2014 gesê het die hospitaalbestuur “doeltreffende stelsels vir die instandhouding en diens van toerusting implementeer.
Die teenoorgestelde gebeur tans. In tien jaar was die gebrek aan stelsels en instandhouding só groot dat nie eens ʼn lugversorger dit kon oorleef nie.
Dit is egter die minste van die probleme wat pasiënte van die hospitaal ondervind. Volgens die VF Plus se plaaslike raadslid, Hennie Roux, het die afdeling vir fisioterapie tans geen werkbare toerusting nie.
Dit dwing die hospitaal om pasiënte wat ná operasies nie kan loop nie, te ontslaan sonder krukke of ander hulpmiddels. Selfs na ontslag ly pasiënte dus onder die hospitaal se swak bestuur.
Baie ander beloftes wat tydens die hospitaal se opening in 2014 gemaak is, staan ook in skrille kontras met die werklikheid.
Die ou Gordonia-hospitaal, sowel as die hospitale in De Aar en Kuruman, sou ná 2014 elk ’n satellietkampus van die Henriëtta Stockdale-verplegingskollege in Kimberley huisves.
’n Opleidingsentrum vir reddingswerk sou ’n ander deel van die Gordonia-hospitaal betrek. ’n Dekade later is daar geen teken hiervan nie.
Verder is belowe dat die gemeenskapgesondheidsentrum in Williston personeelbehuising sou kry. Dit is wel gebou, maar is intussen geplunder en letterlik tot murasies afgebreek.
Terwyl Zuma dit destyds in die vooruitsig gestel dat die goed toegeruste hospitaal verwysings na die oorwerkte Kimberley-hospitaal sou verminder, het dit weens agteruitgang en onklaar toerusting nie gerealiseer nie.
Nog ’n punt waarop Zuma trots was, is dat die nuwe hospitaal se aantal beddens van 180 na 327 vermeerder sou word. Dit sou egter met ’n toename in personeel van 350 na meer as 1000 gedoen word. Hoe hierdie syfers op goeie prestasie sou dui, het hy nie verklaar nie.
Die heel grootste ironie is dat Zuma hierdie hospitaal en die ander beloftes wat hy destyds gemaak het, as motivering vir ’n nasionale gesondheidsversekering (NGV) gebruik het.
Al lê hierdie ANC-beloftes óf in die lykshuis, óf in intensiewe sorg, glo die regering steeds aan die NGV.
Ter wille van gesondheid is dit tyd om die ANC uit te stem – dit is tyd om te herstel en bou.