Die VF Plus wens die nuwe LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake in die Noord-Kaap, mnr. Bentley Vass, geluk met sy aanstelling. Mnr. Vass moet egter besef hy neem 'n erg verwaarloosde portefeulje oor.
Plaaslike regering in die Noord-Kaap is amper besig om uitmekaar te val. Kragonderbrekings weens munisipale wanbetalings aan Eskom en wateronderbrekings weens swak onderhoud, is aan die orde van die dag. Daar is verdere hangende probleme soos die buitensporige eiendomsbelasting op landbougrond in Emtanjeni (De Aar, Hanover en Britstown).
Boonop stry die sogenaamde TRANCRAA-gebiede (tradisionele bruin gemeenskappe soos Komaggas, Concordia, Steinkopf, Pella en Eksteenskuil) reeds baie jare dat hul eiesoortigheid en selfstandigheid erken word. Hierdie sake was vir Vass se voorganger, mnr. Alvin Botes, oënskynlik minder belangrik as sy eie politieke oorlewing.
Die VF Plus sal gou moontlik met die nuwe LUR 'n afspraak wil maak aangesien daar talle sake is wat bespreek moet word in belang van die inwoners van die gebied.
Kontaknommer: 074 166 5540