Klem wat die nuwe staatspresident Cyril Ramaphosa vanaand gelê het op die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding het ongelukkig ‘n donker skaduwee gegooi oor ‘n eerste staatsrede met belofte.
Die beginsel van onteiening sonder vergoeding is uiters negatief vir die ekonomie en vir buitelandse beleggers, ongeag hoe dit geplooi word en die VF Plus sal dit op elke moontlike wyse teenstaan.
Die vele beloftes wat gemaak is om die ekonomie te laat groei en planne om werkloosheid aan te spreek klink ook goed, maar daar is nie presies uitgespel waar die geld gevind gaan word om hierdie planne uit te voer nie, veral nie as voornemende beleggers afgeskrik word deur uitsprake oor onteiening sonder vergoeding nie.
Die VF Plus sê daarom die daad moet nou ook by die woord gevoeg word en president Ramaphosa sal oor die komende maande moet bewys lewer dat sy woorde nie net leë beloftes was nie.
Die president het klem geplaas op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en het onderneem om regeringsdepartemente te verminder wat ongetwyfeld ook ‘n kleiner kabinet beteken. Wat dit aanbetref sal hy so gou as moontlik moet wys dat hy erns het om vinnig en skerp terug te sny aan veral die opgeblase kabinet.
Ramaphosa is bekend daaroor dat hy maklik mooi woorde gebruik, maar die werklikheid is baie keer die teenoorgestelde.
Hy sê byvoorbeeld dat hy ‘n raad vir industriële revolusie gaan instel om te kyk na die vierde en vyfde industriële revolusie wat aan die orde van die dag is, maar die werklikheid is dat Suid-Afrika nou nog sukkel om oor te skakel na digitale televisie terwyl hy al van die vierde en vyfde industriële revolusie praat.
Wat aangeleenthede soos korrupsie en staatskaping aanbetref, het pres. Ramaphosa hom ook sterk daaroor uitgespreek.
Indien hy wel hieroor erns het, sal hy moet wys dat daar nie net teen staatsamptenare nie, maar ook teen korrupte politici opgetree word en dat al die vrot appels so gou doenlik uit die mandjie verwyder word.
Ramaphosa het klem gelê op werkskepping veral vir die jeug en nasiebou, maar die werklikheid is dat Regstellende Aksie (RA) teen die wit jeug en ander minderheidsgroepe van die land soos bruin mense diskrimineer en dan word sy uitsprake hol klinkende woorde.
Indien hy ernstig is oor nasiebou en werkskepping, moet RA afgeskaf word.
Indien hy wel hieroor erns het, sal hy moet wys dat daar nie net teen staatsamptenare nie, maar ook teen korrupte politici opgetree word en dat al die vrot appels so gou doenlik uit die mandjie verwyder word.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216