Gegewe die huidige ekonomiese krisis en die onsekerheid wat daarom ontstaan, sal ’n mediumtermyn-begroting vir die volgende vyf jaar baie onrealisties wees.
Teen die agtergrond van die resessie waarin die land verkeer en met ander onvoorspelbare faktore soos ‘n pandemie, is die poging om vir die volgende vyf jaar te begroot volgens die VF Plus grootliks sinneloos.
Die VF Plus is bekommerd oor verhoogde belastings wat aanstaande jaar geïmplementeer kan word in ‘n poging om staatsinkomste te verhoog. Dit sal die teenoorgestelde effek hê en sal eerder ‘n demper plaas op ekonomiese groei.
Die VF Plus sal nogtans wil sien dat die minister van finansies (Tito Mboweni) werklike strukturele hervormings aankondig, dat werklike planne rakende Eskom aangekondig word, dat maatreëls in plek gestel word om staatskuld en -besteding te verminder, dat beleidsekerheid aangespreek word en dat planne aangekondig word om persoonlike- en maatskappybelasting te verlig aangesien besteebare inkomste geskep moet word om die ekonomie om te keer. Die privaatsektor moet in staat gestel word om te belê in die ekonomie en werk te skep.
Beleidsekerheid is belangrik om beleggingsekerheid te skep vir werkskepping en ekonomiese groei en die staat se salarisrekening moet nou daadwerklik aangespreek word. Die regering maak jaar na jaar beloftes oor 'n verminderde salarisrekening van die staat, maar dit realiseer bloot nie.
Die VF Plus sal veral wil sien dat geen verdere geld gegee word aan mislukte staatsondernemings soos die SAL nie, maar die party voorsien dat die hoop op wesenlike veranderings weereens gaan beskaam en dat die die minister soos gewoonlik ou planne gaan opdis sonder enige hoop op ekonomiese herstel.
Die ANC-regering kan nie toelaat dat hy langer gyselaar gehou word deur sy alliansievennote nie, in besonder die vakbonde wat weier dat daar aan die staat se salarisrekening gesny word nie. Die ekonomie het nou ‘n punt bereik waar die regering feitlik nie meer ‘n keuse sal hê as om hier te besnoei nie.
Navrae: 082 674 6670