Die VF Plus verdoem die voorgestelde duur e-tolboetes in die nuutste Aarto-regulasies.
Die boetes kan dieselfde effek hê as 'n tweede vlaag van Covid-19 in Gauteng aangesien die hoofweë die ekonomiese lewensaar van die provinsie en Suid-Afrika is. Die boetes kan veroorsaak dat die gebruik van die hoofweë eenvoudig gestaak word.
Terwyl daar bespiegelinge bestaan of 'n tweede vlaag Covid-19 die provinsie moontlik kan tref, skep die regering 'n selfgemaakte krisis met die boetes wat die provinsie finaal finansieel kan knak. Die VF Plus beskou daarom die voorgestelde boetes as roekeloos en eis dat dit dadelik onttrek word.
Voorts beskou die VF Plus die boetes as ongrondwetlik. Die Aarto-wetgewing se doelwit is by uitstek om padverkeersveiligheid te bevorder, en die gebruik van Aarto om e-tolboetes te administreer, is dus onvanpas en uiters opportunisties.
Die Aarto-regulasies stel ontstellende hoë boetes van R500 per tolbrug voor vir onbetaalde e-tolfooie plus 'n R100 administrasiefooi per kennisgewing wat uitgestuur word.
Die gevolg is dat selfs die aflê van klein afstande in Gauteng onbekostigbaar sal wees en tot 'n ekonomiese ramp sal lei. Wat die regulasies so gevaarlik maak, is dat die nie-betaling van Aarto-boetes daartoe kan lei dat die uitneem en hernuwing van lisensies geblok kan word.
Dit kan padgebruikers moontlik dwing om ongelisensieer te bestuur wat natuurlik 'n negatiewe uitwerking sal hê op die versekering van voertuie.
Dit is skandalig dat die Gautengse ANC-regering, nieteenstaande sy sogenaamde opposisie teen die e-tolstelsel, steeds nie die nasionale regering kon beweeg om die e-tolstelsel af te skaf nie.
Die VF Plus beskou die e-tolstelsel as sonder enige legitimiteit en eis dat dit onmiddellik afgeskaf word voordat dit verdere ekonomiese skade veroorsaak.
Navrae: 082 391 3117