Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

NT waarsku Emfuleni om pensioenbydraes oor te betaal

Die nasionale tesourie (NT) het die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) vandeesweek gewaarsku om binne sewe dae personeel se pensioenbydraes aan hul pensioenfonds oor te betaal om verdere stappe te vermy.

Emfuleni is een van die 39 munisipaliteite in die land wat hom skuldig maak aan dié wanbedryf om pensioenfondsbydraes nie oor te betaal nie.

In Emfuleni se geval het die munisipaliteit meer as R6,5 miljoen se pensioenfondsbydraes in sy eie koffers gehou in stede daarvan om dit te betaal.

Die NT het Emfuleni verder gewaarsku om sy historiese skuld van R1,7 miljard aan Rand Water te vereffen.

Indien Emfuleni nie hieraan gehoor gee nie, sal die nasionale regering sy billike aandeel vir die oorblywende gedeelte van die 2025/26-finansiële jaar weerhou.

Die VF Plus is nie verbaas oor die NT se drastiese stappe teen Emfuleni nie wat ʼn totale mislukking is.

Nie eers die feit dat die munisipaliteit vir vier jaar onder die Gautengse regering se administrasie was, het ʼn verbetering meegebring nie.

Eskom en Rand Water het al verskeie keer op die munisipaliteit se rekening beslag gelê waarna inwoners hul uitstaande krag- en waterrekeninge direk aan die grootmaatverskaffers moes betaal.

Die VF Plus sal volgehoue druk op die munisipaliteit toepas om te sorg dat uitstaande pensioenbydraes aan fondse oorbetaal word om te verhinder dat dit amptenare se pensioenfondsvoordele nadelig beïnvloed.

Die wanbestuur van Emfuleni-munisipaliteit kan nie langer voortduur nie. Dit is ʼn skande dat die munisipaliteit nie genoegsame dienste aan inwoners kan lewer nie, maar nou ook personeel se pensioenbydraes vir ander doeleindes aanwend.

Die enigste manier om die wanbestuur te keer, is om die ANC-regering van Emfuleni by die stembus te verslaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.