fbpx
Vryheidsfront Plus

Noordwes se vervalle padinfrastruktuur versmoor dorpe se ekonomieë

Die erge verval van paaie en strate in dorpe op Noordwes se hoof-ekonomiese roetes is stelselmatig besig om plaaslike ekonomieë in die provinsie te versmoor.

Hoofroetes soos die N12 gaan deur verskeie dorpe en lewer ‘n groot bydrae tot plaaslike ekonomieë, van die gasvryheid- tot die energiebedryf.

Toeriste en vragvoertuie word egter toenemend gedwing om van alternatiewe roetes gebruik te maak weens die haglike stand van paaie en strate.

Dit is ‘n skande dat plaaslike munisipaliteite toegelaat het dat hul padinfrastruktuur in só ‘n mate verval het dat ‘n groot deel van potensiële kliënte vir plaaslike ondernemings verlore gaan.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die gedeelte van die N12 wat deur Wolmaransstad gaan.

Die strate in dié dorp is byna vernietig weens ‘n gebrek aan instandhouding.

Die Maquassie Hills-plaaslike munisipaliteit wat Wolmaransstad, Leeudoringstad, Makwassie en Witpoort bedien word lank reeds gekenmerk deur onstabiliteit, korrupsie en wanbestuur.

Terwyl die padinfrastruktuur en munisipale dienste in die algemeen verval, en die munisipaliteit tegnies lank reeds bankrot is, gaan die plaaslike ANC voort om slegs sy eie belange te dien.

Munisipale raadsvergaderings word by ‘n luukse vierster toerisme-bestemming 30km buite Wolmaransstad gehou, terwyl die munisipaliteit oor al die nodige fasiliteite beskik.

Verder word die ANC se energie bestee aan interne struwelinge en die toekenning van tenders aan kaders.

Van dienslewering, die instandhouding van infrastruktuur of die omsien na die gemeenskap se belange is daar nie sprake nie.

Die ANC-geleide munisipaliteite in Noordwes word deur die bank gekenmerk deur korrupsie en wanbestuur.

Om die munisipaliteite egter onder Artikel 139-administrasie te plaas, is nie die oplossing nie. Dit lei net verdere kaderontplooiing en wanbestuur.

Die VF Plus eis daadwerklike aksie om te verseker dat die wanfunksionele munisipaliteite hul grondwetlike plig teenoor inwoners nakom.

Die verval van dorpe en plaaslike ekonomieë moet gestuit word.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.