Drastiese optrede is nodig om ‘n finansiële krisis in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Richie) af te weer.
Met die ter tafellegging van die Sol Plaatje-munisipaliteit se aansuiweringsbegroting, het 'n aantal wesenlike vrae na vore gekom.
Dit handel oor die R500 miljoen wat die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, vir die herstel van Kimberley se infrastruktuur belowe het sowel as die voortslepende water- en rioolprobleme van Sol Plaatje.
Tydens die toeligting van die begroting het die hoof finansiële beampte, me. Lydia Mahloko, aangedui dat die munisipaliteit geen geld van die provinsie ontvang het nie.
Besteding aan onderhoud van munisipale infrastruktuur moet in die munisipaliteit se finansiële state weerspieël word. As die provinsie, soos in hierdie geval, op eie inisiatief en met eie fondse aan die munisipale infrastruktuur werk, skep dit 'n probleem met rekeningkundige verslagdoening.
Een moontlikheid is dat die provinsiale regering die bedrag wat bestee is, van die provinsiale departement van openbare werke se munisipale rekening sal aftrek. In daardie geval sou dit beteken dat die provinsiale departement as kontrakteur optree, sonder dat die wetlik voorgeskrewe verkrygingsbestuur gevolg is.
Die goed bedoelde ingryping van die provinsie kan dus veroorsaak dat die ouditeur-generaal bevind dat Sol Plaatje nie alle uitgawes verklaar het nie, of dat die korrekte prosedure nie gevolg is om op 'n diensverskaffer te besluit nie.
‘n Voortslepende probleem wat weer tydens die begroting uitgelig is, is dat die helfte van die water wat Sol Plaatje suiwer, verlore raak.
Dit is aan onwettige aansluitings en lekkasie te wyte. Dit dreineer die munisipale fondse en benadeel dienslewering op alle vlakke.
Intussen het dit aan die lig gekom dat stuwalle gegooi word om te keer dat riool oor die R31 spoel. Dit is die pad na Barkley-Wes en deel van 'n besige ertsroete. Verder kom rioolstorting toenemend by Richie en Modderrivier voor. Die VF Plus sal wetlike stappe neem as die probleem nie binne redelike tyd opgelos word nie.
Die VF Plus eis dat drastiese maatreëls getref word om uitstaande rekeninge te in. Daar behoort 'n voorbeeld gemaak te word van wanbetalende staatsdepartemente en raadslede wie se rekeninge vir drie maande agterstallig is.
Die afsny van dienste is die munisipaliteit se sterkste hefboom.
Navrae: 083 454 9410