fbpx
Vryheidsfront Plus

Mpumalanga-provinsiale openingsrede: Premier erken kritiese kwelpunte, maar bied geen werkbare oplossings

Mooipraatjies van werkskepping, infrastruktuurontwikkeling en die herlewing van toerisme beteken niks indien daar geen werkbare aanduidings gegee word oor hoe dit bereik gaan word nie.

In haar provinsiale openingsrede vandag, het die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, met groot fanfare verskeie nuwe projekte aangekondig, ten spyte van die feit dat groot projekte, wat al vir jare sloer en die belastingbetaler miljoene kos, nog nie afgehandel is nie.

Dit sluit in die Mpumalanga-Internasionale Vrugtemark waaraan al meer as R700 miljoen bestee is, maar wat nog ver van voltooiing is.

Sedert 2011 is meer as R300 miljoen bestee aan die ontwikkeling van ‘n kulturele kern in Witrivier en ‘n hoë prestasiesentrum in Belfast, maar beide die erwe is steeds dolleeg.

Dit is die VF Plus se mening dat die regering eers die uitstaande projekte moet afhandel voordat nuwes aangepak word.

Die ouditeur-generaal (OG) het juis in sy jongste verslag genoem dat die gebrek aan voorkomende beheermaatreëls in die provinsiale departement vir plaaslike nedersettings met betrekking tot projekte, die oorsaak is dat dié projekte sloer en lei tot wanbesteding.

Sanral se skenking van R9 miljard aan die provinsie vir die opgradering van paaie, met die klem op die toerisme-roetes, word verwelkom.

Maar of toeriste bereid gaan wees om met die nuwe mooi paaie te ry om hul geld te gaan bestee by onder meer provinsiale natuurreservate, is te betwyfel weens die vervalle toestand van sommiges wat geen omheinings of wild oor het nie.

Mtsweni-Tsipane het erken dat munisipaliteite nie hul samewerking wil gee aan die provinsiale regering nie, maar het geen oplossings gebied oor wat gedoen gaan word om munisipaliteite te dwing om hul grondwetlike plig teenoor inwoners na te kom nie.

Alhoewel sy gevra het vir samewerking tussen die privaatsektor en provinsiale regering om volhoubare werksgeleenthede te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig, is dit te betwyfel hoe suksesvol die pleidooi gaan wees.

Mpumalanga kon tot dusver nie langtermyn-privaatbeleggings behou nie aangesien projekte soos die Nkomazi-spesiale ekonomiese sone nog nie voltooi is nie en munisipaliteite se dienslewering en infrastruktuuronderhoud ver tekort skiet.

Die VF Plus sal die premier aanbeveel om nou leierskap te toon om die potensiaal van Mpumalanga te ontgin tot voordeel van al sy inwoners.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.