Die VF Plus het die Gautengse polisie kommissaris, lt.genl. Elias Mawela, versoek om dringend ondersoek in te stel na die onlangse optrede van die Midvaal-verkeersdepartement en die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) tydens ‘n klopjag by ‘n algemene handelaar in Meyerton.
Die VF Plus het ook die Ekurhuleni-metroraad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Thlogi Moseki, versoek dat die metro die betrokkenheid van die EMPD by die klopjag in die Midvaal-plaaslike munisipaliteit ondersoek.
Die eienaar van die onderneming het die VF Plus om hulp genader na die voorval.
Die VF Plus wil onder meer weet waarom die plaaslike polisie bevelvoerder van Midvaal nie ingelig is van die beplande klopjag nie en waarom die gekonfiskeerde goedere na die EMPD se kantore in Boksburg geneem is.
Volgens die eienaar is al die items van die rakke afgegooi, in 19 plastieksakke gepak en in ‘n metropolisie-voertuig gelaai. Die eienaar beweer ook dat rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak is.
Alhoewel die eienaar fakture vir die aankoop van voorraad aan die beamptes voorgelê het, het hul steeds voortgegaan om die goedere te konfiskeer. Daar is ook geen lys van die gekonfiskeerde goedere aan die eienaar verskaf nie.
Die VF Plus is nie tevrede met die prosedures wat tydens die klopjag gevolg is nie en bewerings van rassisme is onaanvaarbaar.
Die EMPD het geen jurisdiksie in Midvaal nie en daar moet vasgestel word of die betrokke beamptes ongerymd opgetree het.
Indien wel, moet die lede ondersoek word en ‘n amptelike klag teen hulle aanhangig gemaak word.