Dit is skokkend dat die departement van landbou in Noordwes vandag ruiterlik erken het dat hy 21% meer as markprys vir diesel betaal wat by tenderpreneurs aangekoop word.
Hierdie feit het aan die lig gekom tydens ʼn oorsigbesoek van die parlementêre ad-hoc komitee oor ramp-en vloede-verligting aan Deelpan in Noordwes.
ʼn Woordvoerder van die departement, assistent-direkteur Sebo Kolodi, het in antwoord op ʼn vraag van die VF Plus, erken dat die departement bykans R1,76 miljoen betaal het vir 67 000 liter diesel (R26,26 p/l), in stede van die markprys van sowat R1,43 miljoen (R21,33 p/l) ten tyde van die aankope.
Die oorbesteding op tenderpreneurs het daartoe gelei dat 15 000 liter minder diesel aangekoop is weens die opgeblase tenderprys.
Die diesel was bestem vir “opkomende” en bestaansboere wat baat vind by die departement se rampverligtingprogram nadat die Deelpan-gebied vroeër oorstroom is.
Dit het uit verdere vrae geblyk dat hierdie onaanvaarbare tenderpraktyke in Noordwes se landboudepartement eerder die reël as die uitsondering is.
Die ad-hoc komitee oor ramp- en vloedeverligting sal die ouditeur-generaal (OG) versoek om die tenderpraktyke in die departement te ondersoek met die oog op verdere stappe.
Hierdie vermorsing van belastinggeld op ANC-kaders en tenderpreneurs ten koste van die inwoners van Noordwes is ʼn skande.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir goeie regering in ʼn korrupsievrye omgewing. Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.