Die VF Plus het die mislukte herstelwerk aan die R76 tussen Kroonstad en Steynsrus na die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys ná ʼn oorsigbesoek aan dié pad.
Herstelwerk aan die pad het in 2019 begin en moes aanvanklik September verlede jaar voltooi gewees het, maar die datum is uitgestel tot Junie 2023.
Dit het duidelik met die oorsigbesoek geblyk dat die padprojek eerder as ʼn vermorsing van geld beskou kan word.
Alhoewel die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer aangedui het dat daar reeds R271 miljoen betaal is aan die kontrakteur, Setrade BPK, is die werk nie voltooi nie en het die projek tot stilstand gekom.
Dele van die pad wat wel herstel is, is so swak gedoen dat die padoppervlak verbrokkel het en tans ‘n veiligheidsrisiko vir motoriste is. In die afgelope maand was daar reeds drie ongelukke op die R76 wat in ʼn beter toestand was voordat herstelwerk vier jaar gelede begin het.
Die VF Plus beskou die R271 miljoen wat aan die kontrakteur betaal is, as ʼn verkwiste uitgawe en het die SOE versoek om vas te stel wie verantwoordelik gehou moet word daarvoor.
Luidens ʼn vraag van die VF Plus vroeër vanjaar in die wetgewer, sal dit sowat R29 miljard kos om die Vrystaat se padnetwerk te herstel.
Daar kan nie toegekyk word hoe die departement een enkele sent van geld wat bedoel is vir padherstelwerk, in die water gooi nie.
Die Vrystaat se vervalle padnetwerk is ʼn duidelike bewys van die ANC se nalatenskap van korrupsie, kaderontplooiing en sy mislukte beleid van swart ekonomiese bemagtiging.
Die enigste manier om die Vrystaat se padkrisis en ander probleme op te los, is om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn verantwoordelike koalisieregering.


