Die VF Plus is verheug dat die Mookgophong-landdroshof die saak teen die verdagtes in die plaasmoord van Nicky Janse van Rensburg in Oktober 2022 nie uitgegooi het nie.
Tydens die hofverrigtinge op 21 Augustus het die vier verdagtes se regsverteenwoordiger versoek dat die saak uitgegooi word omdat die staat volgens hom nie oor genoegsame bewyse beskik het om met die saak voort te gaan nie.
Die saak is uitgestel tot vandag.
Die VF Plus het na die hofverrigtinge op 21 Augustus die polisie se Waterbergse distrikskommissaris, genl.maj. Dikeledi Rebecca Mangena, versoek om te verseker dat die saak sorgsaam ondersoek word en enige uitstaande bewyse aan die staatsaanklaer voorsien moet word.
Genl.maj. Mangena het haar kantoor beveel om die dossiere van die moord na te gaan om enige uitstaande inligting te identifiseer en beskikbaar te stel vir vandag se hofverrigtinge.
Hierdie inligting is oorgedra aan die vervolgingsgesag wat aanbeveel het dat die ondersoek moet voortgaan en dat die beskuldigdes nie vrygelaat kan word nie.
Die hof het vandag beslis dat die saak sal voortgaan om verdere ondersoekwerk moontlik te maak. Dit moet by die volgende hofverskyning op 5 September voorgelê word.
Die verdediging het dié beslissing sterk teengestaan.
Die aanslag op boere is nie net tot nadeel van die boere, hul naasbestaandes en werkers nie, maar van die hele Suid-Afrika. Dit kom reeds oor dekades en die regering verseg bloot om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar.
Die party sal die verrigtinge fyn dophou om seker te maak dat geregtigheid geskied.