Dit is teleurstellend en onaanvaarbaar dat die provinsiale regering van Noordwes sy skouers optrek en die ernstige probleme ignoreer wat ondervind word in die Kgetlengrivier-munisipaliteit (Derby, Koster en Swartruggens).
Die VF Plus is bekommerd oor die voortslepende situasie aangesien niks oënskynlik gedoen word om die probleme op te los nie
Van die jongste probleme het klaarblyklik ontstaan nadat die munisipaliteit glo nie pensioen-aftrekkings en mediesefonds-bydraes oorbetaal het aan diensverskaffers nie. Dit het gely tot ‘n staking onder amptenare en werknemers wat dienslewering ernstig raak.
Vroeër is daar ook gestaak nadat oortyd blykbaar nie betaal is aan amptenare nie. Sowat 16 000 huishoudings in alle gebiede in die munisipaliteit word geraak deurdat daar feitlik geen dienslewering is nie
Die plaaslike slagpale kan ook nie sy bedrywighede voortsit nie aangesien rioolverwydering nie gedoen word nie.
Die VF Plus het die kantoor van die premier, mnr. Job Mokgoro, asook die provinsie se LUR vir plaaslike regeringsake, mnr. Mothibedi Kigakilwe, gekontak om aan te dring op dringende ingryping.
Die antwoord vanaf die premier se kantoor is dat die provinsiale regering nie verwittig is van die probleme nie.
Dit is vir die VF Plus nie aanvaarbaar nie. Die party het nou die probleem op provinsiale vlak aangemeld en sal ook op nasionale vlak druk op die regering plaas indien die situasie nie gou verbeter nie.
Mnr. Frans Potgieter, VF Plus-raadslid in Kgetlengrivier, sal die situasie deurgaans monitor om seker te maak daar word in die belang van alle inwoners in dié gebied opgetree.
Kontaknommer: 082 645 0537