fbpx
Vryheidsfront Plus

Wanadministrasie kos Tshwane-belastingbetalers duisende

Wanadministrasie deur die Tshwane-metroraad se Groeps-eiendomsbestuursdepartement (Group Property Management Department) het daartoe gelei dat belastingbetalers van die Tshwane-metro duisende rand moes opdok om die belasting- en dienstegeld van die voormalige ampswoning van die metro te bly subsidieer lank nadat dit reeds verkoop is.

Kaderontplooiing onder die ANC se bewind in die metro het daartoe bygedra dat die stad se eiendomsbestuur agteruitgegaan het en daar vandag nie meer kundiges in die departement werk wat in staat is om die heersende toestand aan te spreek nie.

‘n Onlangse artikel gepubliseer deur Maroela Media (Vrydag 17 Januarie 2020) bevestig die onwilligheid onder bepaalde amptenare om verantwoordbaar op te tree.

In die spesifieke geval is daar nie ‘n stelsel en besigheidsprosesse in plek tussen die stad se departemente vir stadsbeplanning, finansies en eiendomsbestuur nie. Sodra die oordrag van ‘n eiendom by die aktekantoor geregistreer word, word die nuwe eienaar se inligting by stadsbeplanning opgedateer, maar nie by finansies nie.

Die departement het verder ook versuim om die waardasierol op te dateer van R3.8 miljoen na R5.1 miljoen na herregistrasie. Eiendomsbelasting word dus op die laer bedrag gehef tot nadeel van die belastingbetaler.

Die VF Plus ondersoek ook tans verdere voorvalle van wanbestuur waar huurders van raadseiendomme nie verantwoordelik gehou word nie omdat die diensterekenings gekoppel is aan verskeie departemente se begrotings wat lei tot raadslede en amptenare wat in raadswonings bly sonder om te betaal vir huur en dienste.

Dié toedrag van sake is egter nie net beperk tot die Tshwane-metro nie, maar kom voor in talle munisipaliteite regdeur die land wat die inkomstebasis van plaaslike regering tot nadeel van die belastingbetaler beperk.

Die openbare rekeningekomitee, onder voorsitterskap van die VF Plus, het reeds ‘n verslag aangevra rakende die stand van alle raadseiendomme. Die party sal die verslag in diepte bestudeer en met ‘n vergrootglas kyk na alle rekeninge wat teen interdepartementele begrotings gekoppel word. Soos in die geval van die ampswoning het dit gelyk asof die rekening vereffen word deur die eienaar omdat daar ‘n interdepartementele transaksies plaasgevind het.

Kontaknommer: 082 466 3786 / 062 391 1804

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.