Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Noordwes-premier skram weg van kernprobleme in provinsie

Die premier van Noordwes, Lazarus Mokgotsi, het vandag in sy provinsiale rede in die Noordwes-wetgewer opnuut versuim om volhoubare oplossings vir die kernprobleme in die provinsie aan te bied.

Dit is oorbekend dat Noordwes onder ANC-bewind voortdurend ernstige sistemiese probleme ervaar weens korrupsie en wanbestuur op alle regeringsvlakke. Die feit dat nege van die elf provinsiale departemente steeds gekwalifiseerde ouditeursverslae ontvang, spreek vanself.

Die stand van die groter ekonomiese sentra in Noordwes, Matlosana, JB Marks, Rustenburg en Madibeng, skep ‘n duidelike beeld van die werklike lot van Noordwes se inwoners. Dit is ‘n beeld van volgehoue agteruitgang, verval, werkloosheid en disinvestering weens korrupsie en wanbestuur.

Geen van hierdie probleme sal opgelos word sonder die daadwerklike uitwissing van die kultuur van korrupsie en selfverryking wat steeds in ANC-geledere gedy nie.

Dit was vandag ook opmerklik dat die premier geen melding gemaak het van die groot beloftes van werkskepping wat hy in verlede jaar se provinsiale rede gemaak het nie.

Die inwoners van Madibeng wag steeds op die beloofde 20 000 werksgeleenthede wat in 2025 by die Mekgareng slimstad-ontwikkeling sou realiseer. Daar is nog nie ‘n sooi gespit nie.

Só ook wag die inwoners van Matlosana steeds op die beloofde 10 000 werksgeleenthede wat deur beleggings van China Africa Precious Metals en Harmony teweeggebring sou word.

Mokgosi verwys wel na ‘n daling in die werkloosheidskoers in Noordwes. Hy meld egter nie dat 50% van die provinsie steeds werkloos is nie. Verder noem hy nie dat die daling grootliks toegeskryf kan word aan tydelike werksgeleenthede in die landbousektor (seisoenaal) en tydbeperkte kontrakwerk in die konstruksiebedryf nie.

Dit geld ook indiensnemings in die regering se uitgebreide openbare-werke program (EPWP) wat eerder ‘n maatskaplike ondersteuningsprogram is in stede van volhoubare werkskepping wat ekonomiese groei teweegbring.

Dit is duidelik dat die ANC nie die politieke wil, of die vermoë het om die kernprobleme wat die inwoners van Noordwes se lewensgehalte bedreig, doeltreffend aan te pak nie.

Die VF Plus eis dat korrupsievrye en professionele regering wat volhoubare groei vooropstel, in Noordwes herstel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.