Die provinsiale rede van die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, herinner aan vorige redes waar groot aankondigings gemaak is wat nie werklik gerealiseer het nie.
Die aankondiging van R48 miljoen vir die opgradering van die Steinkopf-gesondheidsentrum en R60 miljoen vir ’n onkologiesentrum word nogtans verwelkom.
Hierdie aankondigings kan nie die ernstige werklikheid verbloem dat die provinsiale departement van gesondheid steeds in ’n toestand van krisis verkeer nie, soos die bevindings van die gesondheidsombud uitwys.
Nuwe projekte is belangrik, maar wat werklik nodig is, is ’n funksionele gesondheidstelsel.
Die premier se bewering dat toegang tot basiese dienste soos water en sanitasie verbeter het, staan in skrille kontras met die werklikheid in talle dorpe waar inwoners vir dae en selfs weke sonder water sit, terwyl rioolstortings ernstige gesondheidsrisiko’s veroorsaak.
Geen oplossing is gebied vir hierdie probleem wat die Sol Plaatje-munisipaliteit se inwoners teister nie.
Die aankondiging van bykans R1 miljard vir infrastruktuurverbetering en die versterking van ’n R1 miljard-behuisingsprojek is betekenisloos indien daar nie sigbare en meetbare resultate is nie.
Monitering en beloftes alleen bring nie water uit krane of waardigheid aan gemeenskappe nie.
Die VF Plus neem ook kennis van die premier se ekonomiese aansprake, insluitend groei in die provinsiale ekonomie en werkskepping. Dit moet gemeet word aan die werklikheid van volgehoue werkloosheid, infrastruktuurverval en swak dienslewering wat ekonomiese groei direk belemmer.
Die vestiging van ’n kantoor van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in die provinsie, sowel as die vestiging van tegniese taakspanne, is positief. Sulke strukture alleen sal egter geen verskil maak sonder werklike aanspreeklikheid en gevolge vir wanbestuur nie.
Die mense van die Noord-Kaap het nie nog vergesigte en beloftes nodig nie. Hulle het water nodig wat vloei, infrastruktuur wat werk en ’n regering wat sy grondwetlike plig nakom.
Die VF Plus sal sy grondwetlike toesighoudende rol in die provinsiale wetgewer pligsgetrou uitvoer en sal die uitvoerende gesag tot verantwoording roep oor elke belofte wat nie nagekom word nie.


