Die provinsie van Noordwes gaan toenemend gebuk onder misdaad terwyl die polisie se enigste reaksie is om die Covid-19-inperkings daarvoor te verkwalik.
Dit blyk uit die jongste kwartaallikse misdaadsyfers van die 2021/22-boekjaar wat deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekend gemaak is.
Die provinsie se moordsyfer het met byna 100% gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk in 2020.
Altesame 92 (73%) van die moorde is op openbare plekke gepleeg. Aangemelde verkragtings in die provinsie het vir dié kwartaal ook bykans verdubbel. Roof met verswarende omstandighede het gestyg met 43.7%.
Geen oplossing word gebied nie terwyl die inperkings bloot as verskoning voorgehou word vir die rede in die skerp styging.
Die Covid-19-inperking kan nie die skuld hiervoor kry nie. Juis weens die inperking is mense veronderstel om tuis te wees en nie besig om misdaad te pleeg nie.
Dit wil voorkom of die polisie fokus op die viktimisering van mense wat daaglikse take soos inkopies doen buite die aandklok, eerder as om hom toe te spits op misdaadbestryding en doeltreffende ondersoekwerk.
Hierdie syfers dui eerder op ‘n gebrek aan polisiëring en vervolging wat direk verband hou met die ANC-regering se onvermoë om misdaad te bestry.
Die blote feit dat ‘n groot hoeveelheid moorde in Noordwes in die openbaar gepleeg is, toon dat misdadigers die oorhand het en dat die plaaslike polisie nie die wil of vermoë het om wetsgehoorsame landsburgers te beveilig nie.
In stede daarvan om die blaam elders te soek, moet daar daadwerklik aandag gegee word aan die bemagtiging van polisielede ten einde misdaad te voorkom. Benewens dit, moet die strafregstelsel ernstige aandag skenk aan die doeltreffende vervolging van misdadigers.
Die VF Plus veroordeel die ruggraatlose wyse waarop die-ANC regering verskonings maak vir sy onbevoegdheid en vra dat landsburgers in hierdie komende verkiesing sal stem vir beter leierskap en regering.