Die inhegtenisname van die uitvoerende burgemeester van die Nkangala-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga, Thembi Masilela en agt ander gister in Middelburg, bevestig die VF Plus se aandrang dat daar dringend leefstyloudits op alle provinsiale en munisipale amptenare gedoen moet word.
Masilela en haar mede-beskuldigdes word aangekla van diefstal, vervalsing en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.
Die inhegtenisname is die jongste van 'n lang lys ANC-amptenare wat die afgelope jaar in Mpumalanga van beweerde korrupsie aangekla is.
Die VF Plus het by verskeie geleenthede die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, herinner aan haar belofte om leefstyloudits uit te voer op amptenare en die party het selfs verlede week weer ‘n mosie in dié verband by die wetgewer ingedien.
Die party het ook versoek dat ‘n sperdatum aan die leefstyloudits gekoppel moet word en dat amptenare wat hulle skuldig maak aan korrupsie, nie net met ‘n waarskuwing of boete mag wegkom nie.
Daar moet ook nie net gefokus word op amptenare wat direk met die publiek skakel nie, maar op alle amptenare ongeag watter soort pos beklee word om so alle vorme van misdaad uit te roei.
Die VF Plus glo dat indien die premier die beloofde leefstyloudits uitgevoer het, baie korrupsie en korrupte amptenare al ontbloot kon gewees het.
Dit is moeilik om die presiese koste van korrupsie te meet weens die verborge aard daarvan en daar sal seker nooit presies vasgestel word hoeveel van belastingbetalers se geld gesteel word nie.
Korrupsie se indirekte gevolg is die verminderde sake-aantreklikheid wat die provinsie inhou vir nuwe plaaslike en buitelandse beleggers – iets wat broodnodig in Mpumalanga is om ekonomiese groei te stimuleer.