Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Noordwes-begroting meer klets as binnegoed

Die LUR vir finansies in Noordwes, me. Kenetshwe Mogenosi, het vandag in haar jaarlikse begrotingsrede ‘n begroting vol ideologies gedrewe beloftes maar met min substansie, óf ‘n konkrete ontwikkelingstrategie, vir die provinsie voorgehou.

Groot gewag is gemaak van die provinsiale regering se gestelde voorneme om plaaslike regering te herstel en “inwoners se vertroue in hul munisipaliteite te herwin”. Dit word egter nie in die begroting gereflekteer nie.

Só word slegs R10 miljoen begroot om “kapasiteit herstelprogramme” in munisipaliteite te loods terwyl dit welbekend is dat die meeste Noordwes-munisipaliteite reeds in ‘n gevorderde staat van verval is.

Mogenosi meld wel dat die provinsiale tesourie se infrastruktuur-bestuurseenheid versterk sal word om beter oorsig oor munisipaliteite se bestuur van infrastruktuurprojekte te bewerkstellig.

Sy meld ook dat kontrakteurs voortaan verantwoordbaar gehou sal word vir swak dienste gelewer en die nie-nakoming van hul kontraktuele verpligtinge.

Dít teen ‘n agtergrond van vele soortgelyke beloftes in die verlede en die feit dat tenderpreneurs en hul meelopers in plaaslike en provinsiale administrasies oor dekades ‘n kultuur van onverantwoordbaarheid en tenderkorrupsie in Noordwes gevestig het. Dit is pas weer voor die Madlanga-kommissie van ondersoek bevestig waar munisipale korrupsie van R332 miljoen blootgelê is.

Dit is verstommend dat die ANC-regering eers ná dertig jaar besef dat hierdie praktyke stopgesit moet word.

Sy noem ook dat die provinsiale regering klem sal lê op ekonomiese ontwikkeling op plaaslike en provinsiale vlak. Tog word net R1 miljard uit ‘n totale begroting van R59,8 miljard aan die departement van ekonomiese ontwikkeling, bewaring en toerisme (Dedect) toegeken.

Wetende dat die vervalle stand van paaie in Noordwes een van die grootste struikelblokke vir doeltreffende ekonomiese ontwikkeling in die provinsie is, word ‘n skamele R115 miljoen vir padonderhoud begroot.

Hierdie stand van sake het reeds tot enorme desinvestering uit die provinsie gelei maar dit blyk dat die ANC-regering nie die nodige insig of politieke wil het om die omvang van die skade te erken, of die noodsaak van onmiddellike regstellende optrede besef nie.

Dit is duidelik dat die ANC-regering in Noordwes nie die vermoë het om ‘n prakties uitvoerbare ekonomiese herstelstrategie te ontwikkel, óf in werking te stel nie.

Uit die oorhoofse temas en leë beloftes van Mosenogi se begrotingsrede is dit duidelik dat hierdie rede slegs deel vorm van nog ‘n rookskerm vir die ANC se verkiesingstrategie wat staatmaak op die voortgesette misleiding van kiesers.

Die VF Plus sal voortgaan om die ANC-regering se deursigtige en oppervlakkige pogings om die inwoners van Noordwes te mislei, aan die kaak te stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.