Die VF Plus dring aan op ‘n dringende vergadering tussen die Nala-plaaslike munisipaliteit en Eskom nadat dié kragverskaffer aangekondig het dat hy vanaf 1 April die munisipaliteit se elektrisiteitsvoorsiening gaan verminder weens uitstaande skuld van ongeveer R1,2 miljard.
Dit volg nadat nasionale tesourie (NT) Nala uit die munisipale skuldverligtingsprogram, wat in 2023 ingestel is, geskop het nadat die munisipaliteit versuim het om by die ooreengekome betalingsvoorwaardes te hou.
Onder die program kon ’n beduidende deel van die munisipaliteit se kragskuld oor ’n tydperk van drie jaar afgeskryf word indien lopende rekeninge betyds betaal word.
In stede daarvan het die skuld sedert Nala se toelating tot die program met meer as R553 miljoen toegeneem.
Indien geen oplossing gevind word nie, gaan inwoners van Bothaville en Wesselsbron meer gereelde kragonderbrekings en ’n vermindering in elektrisiteitsvoorsiening ervaar.
Die VF Plus het reeds vrae gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Sekonyela Lehloenya en die administrateur, mnr. Amos Goliath, oor waarom die skuldverligtingsooreenkoms nie nagekom is nie, wie vir die versuim verantwoordelik is en waarom die raad nie betyds oor die situasie ingelig is nie.
Inwoners en plaaslike ondernemings kan nie die prys betaal vir die ANC-beheerde munisipaliteit se gebrek aan finansiële dissipline en volgehoue swak regering nie.
Dit is tyd om van die ANC in Nala ontslae te raak met vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing.


