Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) kon vandag vir die tweede keer nie daarin slaag om sy aansuiweringsbegroting goed te keur nie.
Die situasie is op die spits gedryf toe die speaker, Sibongile Soxuza, op ʼn geheime stemming aangedring het.
Opposisiepartye het hierop besluit om die vergadering te verlaat aangesien belastinggeld nie deur ʼn geheime stemming bestuur kan word nie.
Die ANC kon met 44 stemme steeds nie die begroting deurkry nie.
Die VF Plus het sy standpunt duidelik gestel dat sonder finansiële nakoming en deursigtigheid die party nie die begroting kan steun nie.
ʼn Finansiële verslag wat aan die raad voorgelê is, toon dat die invorderingskoers tot 76% gedaal het, uitgawes nie betyds op die stelsel aangeteken word nie en dat daar sowat R93 miljoen se uitstaande fakture is wat die munisipaliteit se finansiële posisie verder verswak.
Die VF Plus sal sy oorsigrol streng toepas en toesien dat die munisipaliteit se finansiële bestuur onder die vergrootglas bly.
Die speaker word nou gedwing weer om ʼn aansoek te rig aan die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabolo, sowel as die LUR vir finansies, Lebogang Maile, om die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting uit te stel.
ʼn Nuwe, realistiese begroting moet weer aan die raad voorgelê word.


