(Oorweging van Nasionale Gesondheidsversekeringwetsontwerp in NRP)
Die haalbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) onder die ANC-regering is net soos president Cyril Ramaphosa se droom van “slim stede” en elektriese voertuie in Suid-Afrika, blote wensdenkery.
Die ANC verkeer in ʼn grootheidswaan en wil met die NGV ʼn fabel aan kiesers verkoop wat nie eens in ʼn moderne Eerste Wêreldse-land soos die Verenigde Koninkryk kan werk nie.
Die gewaande strewe van die NGV is om aan alle burgers gelyke mediese behandeling te gee. Dit sal gebeur, maar met inagneming daarvan dat hierdie “gelyke” behandeling sal neerkom op min tot geen behandeling nie.
Almal in Suid-Afrika sal uitgelewer wees aan die nagmerrie waartoe staatshospitale in Suid-Afrika verval het.
Die verdoemende verslag wat die VF Plus verlede week bekend gestel het oor die gruwels in staatshospitale is ’n duidelike bewys dat die staat nie in staat is om na die welstand van sy landsburgers om te sien nie.
Die situasie is só kritiek dat die staat se gesondheidsinstellings die wesenlike gevaar loop om binne die volgende vyf jaar sonder effektiewe mediese geriewe te sit.
Die regering kan nie behoorlike basiese mediese sorg aan pasiënte in staatshospitale verskaf nie weens wanbestuur, korrupsie en die versuim om die behoeftes van die mense bo die ideologiese, sosialistiese en kommunistiese teikens van die ANC te stel.
Die VF Plus het die afgelope maande al die slaggate, gebreke en grondwetlike tekortkominge in die wetsontwerp uitgelig.
Dit is nou duidelik dat die NGV bloot ‘n populistiese verkiesingsinstrument van die ANC is wat nie net miljarde rande sal vermors nie, maar ook baie aan menselewens gaan kos.
Die mikpunt is duidelik ook om ʼn staatsmonopolie op die gesondheidsbedryf te bekom deur ʼn liggaam wat klagtes teen homself moet ondersoek.
Dit laat terselfdertyd ʼn groot vraagteken om die magte, regte en verantwoordelikhede van mediese skemas.
Indien persone wat aan mediese skemas behoort verplig word om deur die NGV behandeling te ontvang, gaan die las op die staat soveel groter wees. Hy kan tans nie eens die mas opkom nie.
Nogtans wil die ANC die wetgewing deurdruk ongeag vele geldige griewe van opposisiepartye, burgerregte-organisasies en die publiek. Die NGV voldoen nie aan die oppergesag van die reg nie.
Die aanvaarding van die wetsontwerp sal groot uitdagings en gevolge vir die regering inhou. Dit sal die regte van landsburgers in die gedrang bring deurdat elke siek mens uitgelewer sal wees aan die onbevoegdheid van die ANC.
Dit terwyl die toestand van die land – van sy paaie tot die verval van Eskom – wys hoe groot en ernstig dié nagmerrie sal wees.