fbpx
Vryheidsfront Plus

Drinkwater in Dawid Kruiper-munisipaliteit: Waarvoor word nuwe infrastruktuur gebruik?

Drinkwater is steeds ʼn krisis in die snikhete nedersettings digby Upington, ten spyte van aansienlike koste wat oor die afgelope jaar aangegaan is om die infrastruktuur vir water te verbeter.

Inwoners van Klippunt, Kalksloot, Leseding, Louisvaleweg, Louisvale Dorp, Vaalkoppies, Olyfenhoutsdrift en Upington in die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit vra tereg waarvoor die toerusting gebruik word as watervoorsiening steeds onbetroubaar is.

Inwoners van Klippunt en Kalksloot was in Februarie 2023 baie opgewonde toe ʼn nuwe pyplyn water aan hierdie gemeenskappe begin lewer het. Tans voorsien dit egter geen water nie en huishoudings word deur watertenkwaens bedien.

Louisvale Dorp is naby ʼn watervoorsieningsaanleg geleë en die pyplyn is op die oog af voldoende, maar water word slegs vir twee ure in die oggend en twee ure in die aand voorsien.

Hierdie gemeenskappe se gesprekke met die munisipale direkteur van siviele ingenieursdienste, mnr. Padwald Jonker, sowel as klagte by die menseregtekommissie, het tot dusver geen verbetering gebring nie.

Louisvaleweg, Olyfenhoutsdrif en Vaalkoppies, sowel as dele van Upington soos Die Rand en Keidebees, sukkel gedurig met lae druk en het soms vir ure lank geen water nie.

Dawid Kruiper se sentrale wateraanleg is ná politieke druk van beurtkrag vrygestel. Hierdie dele van die munisipaliteit kry hul water direk van die sentrale aanleg.

Die VF Plus besef dat hierdie vrystelling nie geld vir drukpompe wat elders in die verspreidingsnetwerk is nie. Dit verduidelik egter nie die probleme wat al voorgekom het vóór beurtkrag nog ʼn daaglikse verskynsel was nie.

Met die huidige krisis het die VF Plus geskryf aan die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, om daadwerklike optrede te vra. Dit sal ʼn inligtingsvergadering met die gemeenskap behels, sodat almal kan weet watter uitdagings die munisipaliteit beleef.

Verder moet watertenkwaens volgens ʼn betroubare tydrooster water lewer waar die gewone pypleidings nie werk nie.

Tans wend gefrustreerde gemeenskapslede hulle tot sosiale media, maar vind geen antwoord nie. Water is ʼn basiese mensereg en munisipale besteding weerspieël dit. Die voordele bereik egter nie die gemeenskap nie – en die vraag waarom nie, bly onbeantwoord.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.