Die VF Plus in die Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Devon, Heidelberg, Vischkuil) het verskeie voorstelle aan die departement van ontwikkeling en beplanning gedoen om te help om die bedreigde brulpadda-bevolking van Heidelberg te help beskerm.
Inwoners van Heidelberg is gekant teen ʼn industriële en kommersiële ontwikkeling in uitbreiding 24 weens vrese dat dit kan lei tot die uitwissing van die brulpadda-bevolking in dié gebied asook swak dienslewering.
Een van die voorstelle is dat ʼn tweede behoorlike impakstudie gedoen moet word en ʼn openbare deelnameproses moet plaasvind voordat die ontwikkeling goedgekeur kan word.
ʼn Impakstudie is reeds in 2009 gedoen wat ʼn buffer en ʼn park tussen die brulpadda-bevolking en die nuwe ontwikkeling aanbeveel het. Die voorstelle is reeds uitgevoer.
Die tweede impakstudie, 14 jaar later, is om vas te stel of die padda-bevolking nie verder in uitbreiding 24 inbeweeg het nie.
Die impakstudie moet ook verder vasstel of die Lesedi-munisipaliteit voldoende dienste aan die nuwe industriële uitbreiding kan lewer en wat die impak van geraas en lugbesoedeling gaan wees.
Die departement van natuurbewaring sal die impakstudie hanteer en aanbevelings maak. Indien die padda bevolking se gebied vergroot het, kan die grense van uitbreiding 24 verskuif of die buffergebied vergroot word.
Die besonderse brulpadda-spesie wat diep onder die grond woon en in die reënseisoen na die oppervlak beweeg, is een van Heidelberg se toeriste-aantreklikhede.
Inwoners voel dat die spesie ten alle tye beskerm moet word.
Die realiteit is wel dat Lesedi ʼn werkloosheidsyfer van 52% het en uitbreiding met nuwe beleggers kan ekonomiese vooruitgang bring. Die streek kan nie bekostig om beleggers weg te wys nie.
Die VF Plus is ten gunste van industriële ontwikkeling asook omgewingsbewaring en meen die twee moet en kan in simbiose met mekaar staan.