Die VF Plus het die EFF-speaker van die Ekurhuleni-metroraad, me. Nthabiseng Tshivhanga, versoek om dringend ʼn raadsvergadering te belê om belangrike items af te handel wat aan die ouditeur-generaal (OG) voorgelê moet word.
Die resesperiode begin op 14 Desember en die werk moet dan afgehandel wees.
Indien die items nie voor die aangewese sperdatum afgehandel word nie, sal onvolledige dokumente by die OG ingedien word.
Een van die items handel oor die institusionele oorsig van die struktuur van die metro. Hierdie item is al lank in afwagting en is van so aard dat dit moontlik die EFF se bestuursposisies in die raad nadeling kan raak.
Dié spesifieke item was op die raadsagenda van 30 November, maar die speaker het die vergadering verdaag nadat daar chaos uitgebreek het tussen die EFF en opposisiepartye.
Sy het wel onderneem om binne sewe dae ʼn spesiale vergadering te belê ten einde die onafgehandelde items te bespreek.
Raadslede het tot op datum egter geen kennisgewing vir so vergadering ontvang nie.
Die VF Plus sal druk op die speaker plaas om die vergadering so spoedig moontlik te skeduleer om aan die voorskrifte van die OG te voldoen.
Indien dit nie gebeur nie, sal die VF Plus ʼn formele klag teen die speaker by die reëls- en etiekkomitee van die metroraad indien.


