Die VF Plus is tevrede met die Tshwane-metropolisie (TMPD) se suksesse wat die afgelope naweek behaal is om wet en orde in die metro te handhaaf.
Drie onwettige vuurwapens, ammunisie en sewe selfone is Vrydagaand, 8 Desember, by ‘n padblokkade in Mamelodi in ‘n gekaapte voertuig gevind.
Een van die vuurwapens was ‘n polisiepistool wat tydens ‘n inbraak gesteel is.
‘n Toyota Fortuner wat in die Garsfontein-gebied gesteel is, is ook tot groot vreugde van sy wettige eienaar teruggekry.
Verder is elf motorbestuurders vir dronkbestuur in hegtenis geneem, een vir aanranding en een vir inmenging met ‘n polisiebeampte in sy werk.
Vrydagaand se siftingsproses het aangedui dat uit die 160 bestuurders wat in die padblokkade gestop is, 35 positief vir alkohol getoets het waarvan elf bo die wettige perk.
Die TMPD was Saterdag weer op sy pos en meer as 70 verdagtes is aangekeer vir misdade wat wissel van dwelmhandel, onwettige immigrasie, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van dwelms en dronkbestuur.
Agt drankwinkels is gesluit omdat dit ongelisensieerd bedryf is en die eienaars is toepaslike boetes opgelê.
Die tegnologie van die nuwe alkoholbus het daartoe gelei dat 23 bestuurders vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. R6 000 aan uitstaande verkeersboetes is met die bus se betalingstelsel verhaal.
Die VF Plus het die TMPD, polisie en ander rolspelers bedank vir hul pogings om ‘n toename in behoorlike wetstoepassing in die aanloop tot die feesseisoen te verseker.
Alkohol bly ‘n groot bydraende faktor tot padongelukke en sterftes.
Die VF Plus doen ʼn beroep op motoriste om nie te drink en te bestuur nie.
Bly nugter om almal die vreugde te gun om die Kersseisoen saam met hul geliefdes deur te bring.