Die goedkeuring van die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte deur die Raad van Provinsies is ’n ernstige terugslag vir die landbou en vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in die breë. Die VF Plus doen ’n beroep op die president om nie die wet te onderteken voordat hy nie die ekonomiese impak wat dit op die landbou en ekonomie gaan hê, 100% bereken het nie.
“Vanjaar na grondeise gesluit het, 16 jaar na die instel van grondeise in 1998, is sowat 95% van hierdie eise afgehandel. Dit het belastingbetalers miljarde rande gekos. Daar is gedink dat die landbou nou na normaal kan terugkeer soos die laaste eise afgehandel word. Nou skielik voor die verkiesing, kom die ANC met hierdie wet om die grondeise-proses van vooraf te heropen. Dit verlam die landbou vir die volgende 20 en meer jare en bring al die onsekerhede weer terug,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, gesê.
Tydens die vorige grondeise-proses is 80 000 eise ingedien wat landboubedrywighede in groot dele van die land tot stilstand gedwing het. As jy ’n eis op jou grond het, kan jy die grond nie verkoop kry nie. Jy brei nie uit of belê niks in jou boerdery nie omdat jy more die grond kan verloor. Dan wag jy in onsekerheid vir jare voor ’n eis afgehandel is. Na 10 jaar is daar in talle gevalle bevind dat die eis nie geldig was nie. Die landbouer se verliese weens die 10 jaar onsekerheid word nie deur die staat terugbetaal nie.
Die VF Plus was die enigste party in die parlement wat onvoorwaardelik teen die heropening van grondeise gestem het. Die DA is ten gunste van die heropening van grondeise, maar het as voorwaarde gestel dat slegs 1 jaar in plaas van 5 toegelaat moes word vir die instel van nuwe grondeise.
Die staat verwag 379 000 nuwe grondeise wat die belastingbetaler tot R179 miljard gaan kos.
“Die heroopstel van die eise skep verwagtinge by duisende ANC-ondersteuners terwyl die staat finansieel nie aan hierdie verwagtinge kan voldoen nie. Dit is die resep waaruit revolusies gebore word – verwagtinge wat nie nagekom word nie,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403