fbpx
Vryheidsfront Plus

Mikro-organismes kan in toekoms groot rol speel in internasionale voedselsekerheid

Navorsing, tegnologie en kennisdeling gaan in die toekoms allerbelangrik wees om kos te voorsien aan die wêreld se groeiende bevolking met sy snel krimpende natuurlike bronne.

Dit was die tema van ‘n toespraak wat dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, vanoggend gelewer het op ‘n internasionale simposium van die Transvaalse Landbou-Unie oor die rol van ‘Effektiewe Mikro-organismes’ in landbou.

Sprekers van lande soos Sri Lanka en Japan het deelgeneem en daar was gaste van verskeie Afrika-lande soos Ghana, Zambië en Tanzanië, en selfs van Saoedi-Arabië.

Dr. Mulder het gesê die landbousektor in Suid-Afrika bly die sleutel tot voedselsekerheid en landelike ontwikkeling en speel ‘n onontbeerlike rol in die land se sosiaal-ekonomiese- en –politieke stabiliteit.

“Die realiteit is dat die wêreld se bevolking oor die laaste vyftig jaar verdubbel het en daar tans 7.18 miljard mense in die wêreld is. Die syfer gaan teen die jaar 2050 na verwagting 9.5 miljard wees.

“In Suid-Afrika blyk die bevolkingsgroei veel hoër te wees as op die internasionale grafiek. Volgens die VN se Bevolkingsfonds groei die land se bevolking elke uur met 123 geboortes en 16 immigrante terwyl daar 85 sterftes per uur is.

“Hierdie syfers beteken dat die wêreld se boere elke jaar 2% meer kos moet produseer. Teen 2030 moet 50% meer as tans geproduseer word terwyl dit teen 2050 moet verdubbel.

“Tussen al hierdie syfers is die mees kommerwekkende dat die wêreld se meeste en die beste landbougrond reeds benut word, en dat sowat 10 miljoen hektaar per jaar verlore gaan weens verstedeliking en droogte.

“Daar is wel oplossings, en dit lê in nuwe tegnologie soos die aanwending van mikro-organismes, navorsing, opleiding en verhoogde produktiwiteit.

“Daarbenewens het Afrika volgens die jongste McKinsey-verslag groot potensiaal om te help om die wêreld se kosmandjie vol te hou. Met 60% van die wêreld se onbenutte landbougrond en lae produksie op bestaande landbougrond, is die kontinent volgens dié verslag gereed vir ‘n sogenaamde ‘groen revolusie’ wat landbou in lande soos Asië en Brasilië ingrypend verander het.

“In al die pogings sal die rol van tegnologie toenemend belangrik word, en met vandag se simposium het Suid-Afrika gewys dat hy ‘n internasionale rol speel om die wêreld te wys op die belangrikheid daarvan,” het dr. Mulder gesê.

 

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.