Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Taxi-bestuurder wat drawwer raakry het doelbewus verkeersreëls oortree en moet van poging tot moord aangekla word

‘n Klag van roekelose en/of nalatige bestuur teen ‘n taxibestuurder wat ‘n atleet van Pretoria raakgery het, is skreiend onvoldoende en ‘n klag van poging tot moord moet teen hom ondersoek word omdat hy doelbewus ‘n verkeerswet oortree het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Vervoer.

Volgens Beeld (27 Mei 2014) is Melany Delaney (28), ‘n arbeidsterapeut , aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en het dalk breinskade opgedoen nadat sy Maandagoggend in Stanza Bopapestraat (die ou Kerkstraat) in Arcadia, Pretoria, deur die taxi getref is terwyl sy vir die Comrades geoefen het.

Volgens ooggetuies het Delaney by ‘n rooi verkeerslig gestaan en wag tot dit na groen verander voordat sy begin hardloop het. Die minibustaxi het van die teenoorgestelde rigting gekom en haar teen ‘n hoë snelheid getref.

Adv. Alberts sê die totale gebrek aan die nakoming van verkeersreëls is die gevolg van onvoldoende strawwe wat geensins as afskrikmiddel dien nie.

“In hierdie geval is dit duidelik dat die persoon nie van plan was om by die rooi verkeerslig stil te hou nie en daarom moes voorsien dat hy iemand kon dood of ernstig beseer en homself met daardie moontlikheid versoen het. ‘n Blote klag van roekelose en/of nalatige bestuur is daarom nie voldoende nie. Die VF Plus gaan derhalwe 'n versoek aan die vervolgingsgesag rig om 'n klag van poging tot moord aanhangig te maak.

“Daarbenewens het die persoon weggejaag en is hy nog nie in hegtenis geneem nie. Dit moet verswarend teen hom tel met vonnisoplegging.

“Die voorval herinner aan een waar die sestienjarige Bernadine Kruger van Pretoria dood is toe ook ‘n taxi haar op haar motorfiets raak gery het.

“In hierdie geval is die taxi-bestuurder, Percyval Matji, tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die hof bevind het dat hy haar met opset gevolg en raakgery het. Die klag was van strafbare manslag na moord verander nadat die VF Plus 'n versoek daaroor aan die vervolgingsgesag gerig het.

“Dit het tyd geword dat wetteloosheid op ons paaie met swaarder strawwe gestuit word. Solank vonnisse nie as afskrikmiddel dien nie, sal die slagting eenvoudig voortduur,” sê adv. Alberts. Daarom moet die staat ernstiger klagtes teen bestuurders lê waar die omstandighede dit toelaat. Die VF Plus sal 'n blywende rol daarin speel om te verseker dat ons paaie veiliger word.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.